Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:36-48 Die Boodskap (DB)

36. Na hierdie woorde was die wolk skielik weg. Jesus het alleen daar gestaan. Die dissipels het vir niemand vertel wat hulle gesien het nie.

37. Die volgende dag het hulle van die berg af geklim. Toe hulle onder kom, het ’n groot klomp mense Jesus ingewag.

38. ’n Man daar in die skare het skielik hard uitgeroep: “Goeie Leermeester, ek smeek U, help my seun, asseblief. Hy is my enigste kind. En hy ly verskriklik.

39. Ek dink hy is in die mag van ’n bose gees. Hy kry sulke snaakse aanvalle. Dan begin hy skree en sy hele liggaam gaan aan die ruk. Skuim loop ook by sy mond uit. Die aanvalle hou omtrent nooit op nie. My arme kind is al behoorlik verniel.

40. Ek het hom na u dissipels toe gevat, maar hulle kon niks vir hom doen nie.”

41. Jesus het dadelik na sy dissipels toe gedraai en vir hulle gesê: “Julle klomp ongelowiges! Hoeveel keer moet Ek dieselfde dinge oor en oor sê en doen voordat julle regtig glo? My geduld met julle is vinnig besig om op te raak.”Jesus sê toe vir die man: “Bring jou seun hier.”

42. Toe die seun by Jesus kom, het die bose mag hom weer beetgepak. Sy hele liggaam het inmekaargetrek en hy het wild begin ruk. Jesus het dadelik die bose gees beveel om uit hom pad te gee. In ’n oogwink was die bose mag weg. Jesus het die seun toe gesond aan sy dankbare pa teruggegee.

43. Almal wat gesien het wat gebeur, was verstom. “God is regtig groot,” het hulle vir mekaar gesê.

44. Tussen al die opgewondenheid deur het Jesus vir sy dissipels gesê: “Onthou baie goed wat vandag hier gebeur het, want dit gaan nie altyd so maklik wees nie. Binnekort gaan die mense My vang en My soos ’n misdadiger behandel.”

45. Die dissipels het egter nie verstaan wat Jesus vir hulle gesê het nie. Hulle was ook te bang om te vra wat Hy bedoel. Maar dit was in elk geval nog nie die regte tyd vir hulle om te weet wat alles op Hom wag nie.

46. Op ’n dag het Jesus se volgelinge aan die stry geraak oor wie van hulle sy belangrikste volgeling is.

47. Jesus het gehoor wat aan die gang was. Hy het toe ’n klein kindjie wat daar rondgespeel het, nader geroep.

48. Toe sê Hy vir sy volgelinge: “As ander mense een van hierdie kindertjies soos ’n goeie vriend behandel, is hulle sommer my vriende ook. Elke goeie ding wat mense aan een van my kinders doen, doen hulle ook aan My. En wanneer hulle My soos hulle vriend behandel, dan is hulle my Vader se vriende ook. Hy het My mos na julle almal toe gestuur. “Elkeen van julle wat groot respek vir God en vir ander mense het en wat nie baie van julleself dink nie, is regtig baie belangrik in God se oë.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9