Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:20-31 Die Boodskap (DB)

20. As julle die regte antwoord gekry het, sal julle moet erken dat Ek die demone in God se groot krag wegjaag. Dan sal julle ook besef: oral waar Ek onder julle aan die werk is, is God aan die werk. Daar raak God se vinger grond. Daar kan julle sien hoe God se nuwe wêreld lyk.

21. “Kom Ek verduidelik dit met ’n beeld. Dink julle ’n mens kan sommer by die huis van ’n groot man wat ’n klomp wapens in sy kluis het, instap en sy goed gaan steel? Natuurlik nie. Hy sal jou mos vinnig op jou plek sit.

22. Behalwe natuurlik as jy sterker as hy is. Dan kan jy hom oorrompel en al sy goed vat en dit verdeel.

23. “Wat sê hierdie beeld vir julle? Dít: julle kan mos duidelik sien aan wie se kant Ek staan. Nou moet julle ’n keuse maak: óf julle kom staan aan my kant óf julle gaan staan aan my vyand se kant; óf julle help My om mense na God se nuwe wêreld toe te lei óf julle jaag hulle weg.

24. “Weet julle, wanneer ’n onrein gees uit ’n mens se lewe padgee, gaan soek hy vir hom ’n ander blyplek. As hy na ’n lang soektog nie ’n rusplek kry nie, sê hy vir homself: ‘Ek is moeg gesoek. Ek gaan gou kyk wat van die plek geword het waar ek eers gebly het.’

25. Daar gekom, vind hy die plek dan dolleeg, mooi skoon en reg.

26. Dan gaan haal hy sommer nog sewe ander bose geeste wat blyplek soek. En hulle is nog slegter as hy. Die hele spul van hulle gaan trek dan saam daar in. Sowaar, vir so iemand sou dit baie beter gewees het as hy nie die eerste keer uit die mag van die bose gees bevry is nie. Hy moes God liewer in sy lewe toegelaat het toe hy die keuse gehad het.”

27. Toe Jesus dit sê, roep ’n vrou uit die skare skielik opgewonde uit: “O, watter aangrypende dinge sê U nie! Hoe wonderlik moet dit nie wees om ’n kind soos U te hê nie. U ma is die gelukkigste vrou op aarde. Om te dink sy het iemand soos U in die wêreld gebring en U grootgemaak.”

28. “Ja, dis seker waar,” antwoord Jesus toe. “Maar daar is mense wat selfs nog gelukkiger as my ma is. Dit is hulle wat God se Woord hoor en dit doen.”

29. ’n Groot skare mense het om Jesus begin saamdrom. Maar Hy was nie baie tevrede daarmee nie. Hy sê toe vir hulle: “Julle loop om die verkeerde redes agter My aan. Julle steur julle lankal nie meer aan God nie. Nou kom soek julle by My allerhande tekens sodat julle weer so ’n klein rukkie op God se pad kan kom stap. Julle wil hê Ek moet julle met ’n paar wonderwerke vermaak. Ek weier om dit te doen.

30. Maar Ek sal wel een teken vir julle gee: gaan kyk na die profeet Jona. Iets soortgelyks gaan met My gebeur as wat met hom gebeur het toe hy drie dae in die maag van die vis was.

31. “Maar gaan leer nog iets by Jona. Die mense van Nineve vir wie hy gepreek het, het na sy woorde geluister en hulle bekeer. Net soos Jona vir hulle ’n teken van God af was, net so is Ek, die Seun van die mens, die Teken van God vir hierdie sondige geslag.“Gaan kyk ook na die koningin van die suide wat op ’n dag na koning Salomo toe gekom het. Sy het baie ver gereis om sy wysheid te kom aanhoor. Weet julle, selfs sy sal op die laaste dag opstaan en as regter optree oor die sondige mense van hierdie geslag. Maar julle besef nie dat hier voor julle Iemand staan wat duisend maal belangriker as Salomo is nie. As die koningin van die suide bereid was om na Salomo te luister, hoeveel te meer moet julle dan nie na my woorde luister nie?

Lees volledige hoofstuk Lukas 11