Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:23-40 Die Boodskap (DB)

23. “Julle is kinders van hierdie ou aarde. In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan. My wortels lê egter nie in hierdie wêreld ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel.

24. Daarom kan Ek vir julle sê dat julle besig is om God heeltemal mis te loop. Glo in My. Glo dat Ek is wie Ek sê Ek is. Anders gaan julle sonder God sterf. Elke sonde wat julle gedoen het, sal dan teen julle tel.”

25. “Wie ís jy presies?” wou hulle toe weet. “Ai, moet Ek alles nou weer sê? Ek sê dit nog die hele tyd vir julle,” antwoord Jesus hulle toe. “As Ek darem vir julle moes sê wat Ek van julle dink, sou Ek julle nogal ’n rukkie kon besig hou.

26. Maar daar is belangriker dinge. Ek praat liewer met julle oor die dinge wat Ek by my Vader gehoor het. Hy het My gestuur om dit te doen. En omdat Ek dit by Hom gehoor het, kan julle dit maar glo, want Hy is absoluut betroubaar.”

27. (Dit het nie tot die Jode deurgedring dat Jesus van die hemelse Vader praat nie.)

28. Jesus het aangegaan: “Wanneer Ek aan die kruis opgelig word, sal julle besef dat Ek werklik is wie Ek sê Ek is. Ek doen nie hierdie dinge uit my eie nie. Ek suig dit ook nie uit my duim nie. Ek sê slegs wat my Vader vir My gesê het. Die Vader laat My ook nie alleen nie.

29. Hy het My gestuur en daarom bly Hy by My. Van my kant af probeer Ek altyd weer my uiterste bes vir Hom.”

30. Hierdie argumente het baie mense oortuig. Hulle het Hom en sy boodskap begin aanvaar.

31. Jesus sê toe vir hierdie Jode wat hulle vertroue in Hom begin stel: “Julle is regtig my volgelinge as julle glo wat Ek sê. Hou vas daaraan en leef daarvolgens. So sal julle ontdek wat vir God belangrik en sinvol is.

32. En hoe meer julle dit ontdek, hoe meer sal julle word wat God julle gemaak het, vry mense.”

33. Die Jode kap toe vinnig terug: “Ons is die nageslag van Abraham. Niemand kon nog ooit ons vryheid van ons wegneem nie. Waar kom jy daaraan dat ons nou skielik vry moet word?”

34. “Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?” sê Jesus.

35. “’n Slaaf is nie ’n permanente lid van die familie nie. ’n Seun bly egter altyd ’n kind in die gesin. Die seun is dus die een wat vir altyd julle vryheid in die gesin kan waarborg, want hy is altyd daar.

36. As die Seun van God dus sê julle is vry, is julle regtig in God se gesin vry.

37. Natuurlik weet Ek dat julle biologies die nageslag van Abraham is. Wie weet dit nou nie? Maar tog wil julle My doodmaak. Dit sê iets van julle geestelike vader. Julle wil mos nie aanvaar wat Ek vir julle sê nie.

38. Intussen vertel Ek julle net wat Ek by die hemelse Vader gesien het. Julle moordgedagtes bewys egter alte duidelik dat Satan julle vader is. ’n Kind luister mos na wat sy pa vir hom sê.”

39. Die Jode sê toe weer: “Abraham is ons pa!”“Die werklike nageslag van Abraham sal beslis die voorbeeld volg wat Abraham gestel het.

40. Maar julle wil My sommer doodmaak omdat Ek eerlik is en vir julle die waarheid vertel. En dit is nogal die waarheid wat Ek by God self gehoor het. Abraham sou nooit soos julle gemaak het nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8