Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:11-21 Die Boodskap (DB)

11. “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord.Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ’n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ’n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.”

12. Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.”

13. Die Fariseërs val Hom toe dadelik aan: “Jy praat darem baie oor jouself, nè? Dit is net ‘ek, ek’ die hele tyd. Iewers moet ’n skroef los wees! Al hierdie dinge wat jy sê, kan tog nie waar wees nie, want niemand anders sê dit nie, net jy.”

14. “Al praat Ek ook oor Myself, kan julle maar glo wat Ek sê, want dit is die waarheid. Is dit regtig so dat iets ’n leuen is as iemand dit oor homself sê? Is dit nie baie belangriker om liewer te vra of ’n mens die persoon kan glo wat dit sê nie? Nou ja, julle kyk die Persoon mis. Julle besef glad nie wie Ek is nie. Julle het nie ’n idee waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Ek weet dit egter.

15. Tipies mens kyk julle net deur menslike oë. Ek sien en beoordeel dinge anders.

16. “As Ek egter dinge oor mense sê, kan julle maar weet: alles wat Ek sê, is waar. Selfs ’n regter in ’n hof sal dit moet toegee. Daar is immers twee van ons wat die waarheid daarvan waarborg. Daar is natuurlik Ek en my Vader wat My gestuur het.

17. Julle eie wet sê mos dat as twee mense dieselfde sê, die regter dit ernstig moet opneem.

18. Nou ja, Ek praat wel oor Myself, maar my Vader wat My gestuur het, bevestig dat alles waar is wat Ek sê.”

19. “Nou toe, waar’s jou pa? Wys hom vir ons!” sê hulle toe.“Julle het nie ’n benul wat julle vra nie. Julle weet nie wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. As julle geweet het wie Ek is, sou julle ook dadelik geweet het wie my Vader is,” kom dit toe van Jesus.

20. Hierdie gesprek het plaasgevind by die plek waar mense hulle bydraes vir die tempel kom inbetaal het. Ten spyte van hulle wraakplanne het die Jode nie eens probeer om die polisie te roep om Hom te kom vang nie. God het besluit dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie.

21. Jesus het verder op sy stelling uitgebrei. “Soos Ek gesê het, Ek gaan weg. Al probeer julle hoe hard, sal julle nie kan kom waar Ek heen gaan nie. En weet julle hoekom nie? Omdat julle te ongehoorsaam aan God is. Daarom sal julle sonder God doodgaan.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 8