Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:49-57 Die Boodskap (DB)

49. Kajafas kry toe kans om iets te sê. Hy was nie net ’n lid van die Joodse Raad nie, maar ook daardie jaar die voorsitter daarvan. Hy begin toe so: “Van dié soort dinge weet julle net mooi niks. Maar luister, ek het ’n plan. Dink net hoe goed dit vir ons en die volk kan wees om van hierdie man ontslae te raak. Maak hom dood en dan sal die Romeine tevrede wees.

50. So sal die hele volk nie hoef te sterf nie, maar net hierdie een man. Laat hy in plaas van hulle doodgemaak word.”

51. Hoewel hy hierdie woorde gesê het, was dit eintlik nie regtig hy wat gepraat het nie. Onthou, hy was daardie jaar die voorsitter van die Joodse Raad, ja, hoëpriester! Dit was God wat deur hom gepraat het. Hy was eintlik ’n boodskapper van God toe hy gesê het dat Jesus moes sterf sodat die volk kon bly leef.

52. En dit was nie net bedoel vir die klompie Jode wat in Jerusalem gebly het nie. Nee, dit was bedoel vir al God se kinders, waar hulle ook al in hierdie wêreld mag wees. Jesus het gesterf, sodat hulle ook die ewige lewe kan kry en so aan die een gesin van God kan behoort.

53. Sommer op daardie vergadering het die Raad besluit om Jesus dood te maak.

54. Jesus het toe besluit om maar vir eers weg te bly van daardie Jode af. Daarom het Hy koers gekies die droë platteland in. Hy is saam met sy dissipels na die plek met die naam Efraim toe, ’n dorpie aan die rand van die woestyn.

55. Dit was ook weer tyd vir die paasfees. Die mense het van oral uit die platteland na Jerusalem gestroom. Hulle wou betyds daar kom om alles vir die feesvierings reg te kry. Jesus was die groot onderwerp van bespreking.

56. Terwyl die mense in die tempel rondgestaan het, het hulle by mekaar probeer uitvis: “Wat dink julle? Gaan hy sy gesig hier by die fees wys?”

57. Jesus was ook druk onder bespreking by die Fariseërs en die leiers van die priesters. Hulle het die mense gevra om op die uitkyk te wees vir Hom. As iemand Hom gewaar, moes hy hulle dadelik laat weet. Hulle sou dan die polisie stuur om Hom te gaan vang.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11