Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:40-55 Die Boodskap (DB)

40. “Marta, Marta!” sê Jesus vir haar. “Vergeet jy so gou? Ek het netnou nog vir jou gesê dat as jy My vertrou, jy sal sien wat God regtig kan doen.”

41. Hulle vat toe die rots weg. Jesus maak sy oë toe en bid: “Vader, dankie dat U altyd luister as Ek iets vra.

42. Hier staan baie mense rond. Ter wille van hulle praat Ek so. Wanneer hulle My hoor bid en sien wat gebeur, sal hulle begin besef dat Ek van U af kom.”

43. Toe roep Jesus hard uit: “Lasarus, kom uit!”

44. Daar verskyn Lasarus toe in die ingang van die graf. Oomblikke tevore was hy nog dood. Nou staan hy daar, lewendig! Hy was van kop tot tone in linnelappe toegedraai. Selfs die lap wat oor sy gesig gesit is, was nog daar.Jesus sê toe: “Haal die lappe van hom af, sodat hy self hier kan wegstap.”

45. Die Jode wat saam met Maria gekom het, het nog daar gestaan. Hulle het alles gesien wat Jesus gedoen het. Baie van hulle het daar en dan sy volgelinge geword.

46. ’n Klompie het egter by die Fariseërs gaan nuus aandra. Hulle het hulle alles vertel wat Jesus gedoen het.

47. Die leiers vra toe dat die Joodse Raad bymekaar moes kom. Die Raad was eintlik die godsdienstige parlement van die Jode. “Wat gaan ons nou doen?” vra hulle raadop. “Kyk net wat vang hierdie man alles aan. Kyk al die wonders!

48. As ons hom toelaat om so aan te gaan, stroom al die mense netnou agter hom aan. En daarvan gaan die Romeine niks hou nie. Hulle sal weer dink dit is die een of ander opstand. Dan gaan hulle kom en alles met die grond gelykmaak - ons en al die ander mense inkluis.”

49. Kajafas kry toe kans om iets te sê. Hy was nie net ’n lid van die Joodse Raad nie, maar ook daardie jaar die voorsitter daarvan. Hy begin toe so: “Van dié soort dinge weet julle net mooi niks. Maar luister, ek het ’n plan. Dink net hoe goed dit vir ons en die volk kan wees om van hierdie man ontslae te raak. Maak hom dood en dan sal die Romeine tevrede wees.

50. So sal die hele volk nie hoef te sterf nie, maar net hierdie een man. Laat hy in plaas van hulle doodgemaak word.”

51. Hoewel hy hierdie woorde gesê het, was dit eintlik nie regtig hy wat gepraat het nie. Onthou, hy was daardie jaar die voorsitter van die Joodse Raad, ja, hoëpriester! Dit was God wat deur hom gepraat het. Hy was eintlik ’n boodskapper van God toe hy gesê het dat Jesus moes sterf sodat die volk kon bly leef.

52. En dit was nie net bedoel vir die klompie Jode wat in Jerusalem gebly het nie. Nee, dit was bedoel vir al God se kinders, waar hulle ook al in hierdie wêreld mag wees. Jesus het gesterf, sodat hulle ook die ewige lewe kan kry en so aan die een gesin van God kan behoort.

53. Sommer op daardie vergadering het die Raad besluit om Jesus dood te maak.

54. Jesus het toe besluit om maar vir eers weg te bly van daardie Jode af. Daarom het Hy koers gekies die droë platteland in. Hy is saam met sy dissipels na die plek met die naam Efraim toe, ’n dorpie aan die rand van die woestyn.

55. Dit was ook weer tyd vir die paasfees. Die mense het van oral uit die platteland na Jerusalem gestroom. Hulle wou betyds daar kom om alles vir die feesvierings reg te kry. Jesus was die groot onderwerp van bespreking.

Lees volledige hoofstuk Johannes 11