Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:9-24 Die Boodskap (DB)

9. Jesus, die ware, Goddelike Lig, was op pad na die wêreld toe. Hierdie Lig se strale sou op die mense in hierdie wêreld val.

10. Daar onder die gewone mense van hierdie wêreld sou die Lig kom skyn. Hy self het mos die wêreld gemaak.

11. Eienaardig genoeg het die mense van die wêreld Hom nie herken toe Hy gekom het nie. Om die waarheid te sê, Hy het onder sy eie mense beweeg en opgetree, maar hulle het Hom selfs nie erken nie en wou nie glo wie Hy regtig is nie.

12. Daar was egter uitsonderings. Daar was mense wat Hom met oop arms ontvang het. Hulle het Hom en dit waarvoor Hy staan ten volle in geloof aanvaar. Omdat hulle so op Hom vertrou, het Jesus alles vir hulle gedoen wat nodig was om God se kinders te word.

13. God self het daarvoor gesorg dat hulle as sy kinders gebore word. En dit is iets heeltemal anders as om die kind van ’n gewone aardse pa te wees wat bloot besluit het dat hy ’n kind wil hê.

14. Jesus het toe as mens aarde toe gekom. ’n Mens kan sê Hy het onder ons kom huis opsit. Ons het gesien hoe belangrik en wonderlik Hy is. Net die unieke Seun van die Vader is so groot en belangrik. Hy was soos ’n fontein van die goeie dinge wat God vir ons so onverdiend wil gee. By Hom kon ons ontdek wat regtig waar en eg is.

15. Daarom vertel Johannes dit vir almal wat hy kan: “Jesus is die Een van wie ek gepraat het. Hy verskyn wel na my op die toneel, maar Hy is baie belangriker as ek. Voor ek nog gebore was, het Hy alreeds bestaan.”

16. Hy het ’n oorvloed van geskenke van God af wat Hy vir ons wil gee. Daar is geen keer aan al die goeie dinge wat God vir ons gee nie, al verdien ons dit nie.

17. God het die wet deur Moses gegee. Jesus het egter vir ons die wonderlike goedheid van God af gebring. By Hom kon ons leer wat die waarheid is.

18. Niemand het God nog ooit gesien nie. Die unieke Seun, self God, is baie naby aan sy Vader. Daarom kan Hy ons vertel wie sy Vader is. Hy kan ons leer wat ons van God moet weet.

19. Die Jode uit Jerusalem het ’n afvaardiging priesters en Leviete wat in die tempel gewerk het na Johannes toe gestuur. Hulle moes kom uitvind wie Johannes presies was. Daar gekom, vra hulle hom: “Wie is jy?”

20. Johannes het met groot sekerheid en oortuiging gereageer. “Ek is nie die Messias nie,” het hy openlik en beslis gesê.

21. So het die ondervraging aangegaan: “Wie is jy? Is jy dalk Elia wat teruggekom het?” “Nee! Ek is nie!”“Is jy die spesiale boodskapper van God wat sou kom?”“Nee.”

22. Ten einde raad sê die afvaardiging toe maar vir hom: “Asseblief tog, sê vir ons wie jy is. Ons kan nie sonder ’n antwoord teruggaan na die mense toe wat ons gestuur het nie. As jy nou self voor hulle kon staan en vir hulle moes sê wie jy is, wat sou jy gesê het?”

23. “Ek gaan julle antwoord met die woorde van die profeet Jesaja,” sê Johannes toe. “Ek is ’n boodskapper wat in hierdie droë en onherbergsame plek uitroep: ‘Maak ’n pad gelyk en reguit vir die Here, want Hy is aan die kom.’”

24. Die ondervraers het aan die godsdienstige party van die Fariseërs behoort.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1