Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 5:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe.

9. Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom.

10. Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou.

11. Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is.

12. Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik. Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit. Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie.

13. Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat. As iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is.

14. Is een van julle siek? Hy moet die leiers in die gemeente roep om vir hom te bid. Hulle moet olie op hom sit as bewys van die teenwoordigheid en krag van God.

15. As ’n mens God so vra en Hom vertrou, sal die Here dié persoon help. Hy sal hom nie alleen gesond maak nie, maar as hy dinge gedoen het waarvan God nie hou nie, sal God hom ook oorsien.

16. Erken dit openlik as julle dinge gedoen het wat God nie wou gehad het nie. Bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. God luister graag na mense wie se saak met Hom reg is.

17. Elia is ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy was maar ’n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ’n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly.

18. Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was.

19. Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ’n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 5