Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 5:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Die baie geld en status wat julle so belangrik laat voel, is besig om voor julle oë te vergaan. Die motte vreet julle klere op en julle geld verloor waarde.

3. Dinge wat vir julle soveel werd is, word oud en gaan stukkend. Soos al die dinge wat julle so belangrik laat voel, stukkend gaan en opgeëet word, so word die sin van julle lewe weggevreet. Dit is soos ’n veldbrand wat julle lewe stukkie vir stukkie wegbrand. Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby.

4. Onthou julle die werksmense wat op julle lande gewerk het? Onthou julle hoe julle hulle nie gegee het wat hulle eintlik verdien het nie? En hulle kon niks daaraan doen nie, want hulle was magteloos. Sulke dinge kan ’n mens nie stil hou nie. Dit is of dié geld wat julle vir julleself gehou het, self aan die skree gaan omdat julle so oneerlik is. Die Here, wat sterker as almal is, hoor duidelik hoe daardie werkers magteloos kla.

5. Julle wat ryk is, het meer as wat julle nodig het. Julle het so baie dat julle eintlik daarmee mors. Julle koop goed wat julle glad nie nodig het nie. Terwyl ander mense doodgaan van die honger is julle besig om julleself vet te voer.

6. Julle behandel mense wat julle niks gedoen het nie en wat onskuldig is, asof hulle vuilgoed is en maak hulle baie seer.

7. Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen.

8. Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe.

9. Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom.

10. Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou.

11. Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is.

12. Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik. Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit. Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 5