Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 2:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Christene, niemand is of kan so belangrik wees soos ons Here Jesus Christus nie. Moenie nou sê julle is hierdie Here s’n en dan omdraai en gaan kruip voor mense met baie geld of status nie. Laat ek verduidelik wat ek bedoel.

2. Veronderstel twee mans kom by julle aan terwyl julle kerk hou. Die een man het geld soos bossies. Dit kan jy sommer aan sy klere sien. Hy is ook een van die belangrikste mense in die dorp. Die ander man is egter arm. Sy klere is oud en stukkend. Niemand in die dorp steur hulle aan hom nie. Nou kom die twee saam daar by julle aan.

3. Vir die ryk, belangrike man sê julle: “Kom sit hier op die beste en lekkerste plek.” Vir die arm, onbelangrike man sê julle: “Sit sommer hier op die grond of kry maar vir jou ’n ander plekkie.” Wat dink julle het julle dan gedoen?

4. Het julle dan nie eintlik gesê dat party mense (oor wat hulle besit of wie hulle is) belangriker as ander is nie? Dis tog verkeerd! As julle party beter as ander behandel omdat hulle vir julle ryker of belangriker lyk, tree julle nie soos Jesus op nie. Dan doen julle presies wat ’n klomp slegte mense sou doen.

5. Luister mooi na wat ek sê. Vir wie het God gekies om sy goeie vriende te wees? Vir wie het God sy kinders gemaak sodat alles wat aan Hom behoort ook hulle s’n kan word? Hy het dit alles mos beloof aan mense wat vir Hom lief is. Hy het dit aan diegene gedoen wat in die oë van mense onbelangrik lyk; mense op wie ander neersien.

6. Maar julle behandel juis hierdie arm, onbelangrike mense sleg. Dink weer mooi daaroor na. Wie is die rykes voor wie julle so kruip? Is dit nie hulle wat nie omgee om op julle te trap en julle soos vloerlappe te behandel nie?

7. Is dit nie dieselfde mense wat vir julle so maklik voor almal van allerhande lelike dinge beskuldig nie? Is dit nie ook hulle wat omdraai en Hom beledig wat vir julle so belangrik is nie?

8. As julle die wet van die Koning hou, naamlik: “Jy moet jou naaste so liefhê soos jouself,” tree julle op soos God dit wil hê.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 2