Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:10-20 Die Boodskap (DB)

10. Sulke mense moet liewer laag by God se voete gaan sit met die besef van hoe klein hulle eintlik voor God is. En weet julle hoekom? Laat ek ’n voorbeeld gebruik. Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig.

11. Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan?

12. Die Here gebruik slegte of moeilike dinge in ons lewe om te kyk of ons lojaal aan Hom gaan bly. Ware geluk is om dié toets met vlieënde vaandels te slaag. God noem sulke mense wenners in die lewe. Hy sal hulle deel van sy familie maak. Hulle sal vir altyd by God kan bly omdat hulle deur hulle optrede gewys het hoe lief hulle Hom het.

13. Een fout moet ons egter nie maak nie. Ek kan nie sê dat God die Een is wat al die slegte dinge oor my bring net om my te toets nie. Met sulke speletjies hou God Hom nie op nie. Dit is nie asof die een of ander bose mag God aan sulke toetse kan onderwerp of dat God mense daaraan onderwerp nie.

14-15. Nee, dinge wat ’n geestelike stryd in jou lewe veroorsaak, is jou eie skuld. Die mens begin aan allerhande verkeerde dinge dink en wil dit dan net doen. Soos ’n kind wat agter ’n skoenlapper aanhardloop, lok die verkeerde gedagtes die persoon al hoe dieper die moeilikheid in. Dan word jou Christenskap voor ’n toets gestel. Jy moet kies. As jy kies om op die verkeerde pad aan te gaan, sal jy later nie net oor die verkeerde dinge dink nie, maar dit ook begin doen. En hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen. So werk die sonde met ’n mens. Dit is die pad na die afgrond, die afgrond van godverlatenheid en die dood.

16. Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie. Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie. Hy bly altyd dieselfde. Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel.

17. Dit is ook Hy wat goeie dinge met julle laat gebeur. As sulke mooi dinge met julle gebeur waaroor julle maar net kon droom, moet julle weet: dit kom van God af.

18. Byvoorbeeld, waar kom ons nuwe bestaan as Christene vandaan? God het besluit om dit vir ons te gee. Ons het sy boodskap gehoor en só geleer waaroor die ware lewe regtig gaan. Dit het eerste met ons gebeur. Dat dit met ons gebeur het, moet vir almal en alles ná ons ’n bewys wees dat dit wel moontlik is en kan gebeur.

19. Liewe mede-Christene, plak hierdie woorde op waar julle dit elke dag kan sien: julle moet ander mense ’n kans gee om te sê wat hulle op die hart het. Luister rustig na hulle sonder om hulle te wil doodpraat. Wanneer dit jou kans is, gee jou mening.

20. Moet jou net nie vererg nie, want wat gaan dit nou help? As jy jou humeur verloor, kan jy mos nie meer daarop ingestel wees om te doen wat God wil nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1