Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 11:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur.

2. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het.

3. Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie.

4. Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood.

5. Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het.

6. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang.

7. Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God.

8. God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan.

9. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly.

10. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 11