Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 7:45-56 Die Boodskap (DB)

45. “Hierdie heilige tent was ook by hulle toe Josua hulle nuwe leier geword het. In sy tyd het hy al die ongelowige volke uit Kanaän verdryf. Dié tent was nog steeds by hulle in die tyd van koning Dawid. “Dawid was die koning vir wie God baie lief was.

46. Hy het op ’n dag vir God gaan vra of hy nie ’n tempel as aanbiddingsplek vir die nageslag van Jakob kon bou nie.

47. Sy seun Salomo was egter die man op wie se skouers hierdie taak neergekom het. Hy het vir die Here ’n huis gebou.

48. “Maar tog weet ons dat die allerhoogste God nie in geboue bly wat mense gebou het nie. Hy het dit duidelik deur een van die profete gesê:

49. ‘Die hemel is my troonsaal. Daar regeer Ek. Die aarde is slegs die rusplek vir my voete. Hoe sal julle dan ooit vir My ’n huis kan bou wat groot genoeg is? Kan julle regtig vir My ’n rusplek oprig waar Ek sal wil bly? Nee, julle kan nie. Ek het dit in elk geval klaar gedoen.

50. Ek het vir Myself ’n hemelse woning gebou.’”Stefanus het daarna vir die Joodse Raad gesê:

51. “Julle klomp hardekoppe. Julle dra miskien die teken van die besnydenis aan julle liggaam, maar julle harte en julle koppe is nog glad nie besny nie. Julle doen net mooi niks wat God vir julle sê om te doen nie. Julle luister nie na die Heilige Gees se stem nie.

52. Julle maak presies net soos al julle voorgeslagte.“Dink net wat julle voorvaders met die Here se boodskappers aangevang het. Hulle het elkeen vervolg en doodgemaak wat dit gewaag het om met hulle oor die Messias, oor God se Gestuurde, te praat. Julle is niks anders as hulle nie. Is dit dan nie julle spul wat Christus vermoor het toe Hy na ons toe gekom het nie?

53. “Julle was so gelukkig om God se wet uit die hand van sy engele te ontvang. Maar julle het nooit so ver gekom om te doen wat die wet sê nie.”

54. Toe die Joodse Raad hoor wat Stefanus alles vir hulle sê, het hulle ontplof van woede. Maar hy was vol van die krag van die Heilige Gees. Hy het nie eens agtergekom hoe kwaad hulle was nie, want hy kon tot binne-in die hemel sien.

55. Stefanus het God daar in al sy heerlikheid gesien, en ook Jesus wat langs Hom staan. Toe sê hy hardop:

56. “Kyk daar! Ek kan tot binne-in die hemel kyk. Ek sien Jesus, die Seun van die mens. Hy staan op die belangrikste plek in die hemel, daar reg langs God.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 7