Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 18:8-23 Die Boodskap (DB)

8. Die hoof van die sinagoge in Korinte se naam was Krispus. Toe hy hoor wat Paulus oor Jesus sê, het hy tot bekering gekom. Al die mense in sy huis het saam met hom in Jesus begin glo. Baie ander inwoners van die stad het ook gelowig geword toe hulle Paulus hoor preek. Hulle almal is kort daarna gedoop.

9. Een nag het die Here aan Paulus verskyn en vir hom gesê: “Moenie vir die mense bang wees nie. Hou aan om met hulle oor My te praat. Jy mag nooit stilbly oor die goeie nuus nie.

10. Ek is by jou. Niemand hier in Korinte sal dit waag om jou te slaan of jou in die tronk te gooi nie. Hier is baie mense wat in My glo.”

11. Daarna het Paulus nog vir ’n jaar en ses maande in die stad gebly. Hy het elke kans wat hy gekry het, aangegryp om vir die inwoners van God te vertel. Hy het hulle ook geleer om te doen wat God van hulle verwag.

12. In daardie tyd is Gallio aangestel as die nuwe goewerneur van die Romeinse provinsie Agaje. Die Jode in Korinte wat nie in Jesus geglo het nie, het toe op ’n dag besluit om Paulus by hom te gaan aankla.

13. Hulle het vir Gallio gaan vertel dat Paulus die inwoners van die stad wysmaak dat hulle in God kan glo sonder dat hulle die voorskrifte in die wet van Moses hoef te gehoorsaam.

14. Paulus was ook by toe die Jode hom daar voor Gallio aangekla het. Hy wou nog iets sê om homself te verdedig, maar Gallio het hom nie eens ’n kans gegee nie. “Kyk, as hierdie man iets verkeerds gedoen het, of as hy ’n misdadiger was, sou ek sekerlik na julle geluister het,” het Gallio vir die Jode gesê.

15. “Maar nou mors julle my tyd met julle kleinlike godsdienstige geskille. Ek stel regtig nie belang in wie almal julle godsdienstige wet moet gehoorsaam nie. Julle moet dié probleme maar self oplos.”

16. Daarna het Gallio hulle almal uit sy ampswoning weggejaag.

17. Intussen het die mense vir Sostenes, een van die hoofde van die sinagoge, ook na Gallio toe gebring. Daar het hulle hom rondgestamp en allerhande beskuldigings teen hom gemaak. Gallio wou egter nie in hulle godsdienstige geskille inmeng nie.

18. Paulus het daarna nog ’n ruk lank met sy werk in Korinte voortgegaan. Op ’n dag het hy besluit om ’n paar ander gemeentes te gaan besoek. Hy het van die gelowiges in Korinte afskeid geneem en met ’n skip na Sirië vertrek. Priscilla en Akwila het saam met hom gegaan. Toe Paulus in Kenchreë aankom, het hy al die hare op sy kop afgeskeer. Dit was die bewys dat hy ’n belofte nagekom het wat hy vroeër aan die Here gemaak het.

19. Daarna is Paulus na Efese toe. Akwila en Priscilla het besluit om in Efese agter te bly. Met sy verblyf in die stad het Paulus ’n vinnige besoek by die plaaslike sinagoge afgelê. Daar het hy met die Jode oor Jesus gaan praat. Die mense was so aangegryp deur wat hy gesê het dat hulle wou hê hy moes nog ’n hele ruk by hulle bly. Paulus het egter nie daarvoor kans gesien nie.

20-21. “As God wil, kom ek binnekort weer na julle toe,” het hy vir hulle gesê. Hy het daarna met ’n skip uit Efese weggevaar en in Sesarea aangekom.

22. Daar het hy al die gemeentelede gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Paulus het daar oorgebly.

23. Na ’n kort rustydjie het hy weer begin reis, dié keer deur die landstreke van Galasië en Frigië. Hy het by al die gelowiges wat daar gebly het ’n draai gaan maak en hulle moed ingepraat.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 18