Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 15:11-25 Die Boodskap (DB)

11. Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie. Hy red ander mense op presies dieselfde manier as vir ons.”

12. Almal was doodstil na Petrus se toespraak. Toe staan Barnabas en Paulus op en vertel vir die vergadering van al die groot wonders wat God deur hulle onder mense van ander volke gedoen het. Niemand het dit nou nog gewaag om iets te sê nie, behalwe Jakobus.

13. Hy het opgestaan en gesê: “Broers, luister asseblief na my.

14. Petrus het nou vir ons verduidelik hoe God lank terug besluit het om mense wat nie aan ons volk behoort nie nou ook deel van sy nuwe volk te maak. Hy het dit gedoen sodat hulle Hom ook kan dien.

15. Dit is presies wat die profete vroeër geskryf het:

16. ‘Ek sal binnekort terugkom, sê die Here. Dan sal Ek Dawid se koninkryk herstel wat nou in puin lê. Ek sal alles herbou wat afgebreek is. Ek sal dit splinternuut maak. In daardie tyd sal ander mense na my nuwe koninkryk toe stroom.

17. Al die volke wat Ek na My toe uitnooi, sal dan na My toe kom. Ek, die Here, sal dit alles doen.

18. Maar julle weet tog al hierdie dinge, want Ek het dit al lank gelede aan julle bekendgemaak.’

19. “Daarom, vriende, voel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir mense uit ander volke wat hulle sondes laat staan en hulle tot God bekeer het nie. Al wat ons moet doen, is om ’n brief aan hulle te skryf waarin ons die volgende vir hulle sê:

20. Bly weg van die afgode af. Moenie van die kos eet wat aan hulle gode geoffer is nie. “Moet julle nie skuldig maak aan seksuele sondes nie.

21. “Moet ook nie vleis eet van diere wat verwurg is nie. En moenie bloed drink nie. Hierdie voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, word immers nou al geslagte lank elke sabbat oor die hele wêreld heen geleer.”

22. Almal by die vergadering het met Jakobus se voorstel saamgestem. Die apostels, die ouderlinge en die gemeente het toe besluit om twee mans aan te wys om saam met Paulus en Barnabas na Antiogië toe te gaan. Hulle name was Judas (sy bynaam was Barsabbas) en Silas, twee van die leiers in die kerk. Hierdie mans moes ’n brief namens die Jerusalemgemeente na Antiogië toe vat.

23. Dit is wat in die brief gestaan het:Van die apostels en die ouderlinge en al die gelowiges hier in Jerusalem.Aan almal daar in die kerk in Antiogië, Sirië en Silisië wat vanuit die nie-Jodedom kom. Ons groet julle as ons broers en susters.

24. Ons het gehoor dat ’n klompie mense uit Jerusalem daar by julle opgedaag het wat dinge vir julle gesê het wat julle omgekrap het. Ons verseker julle dat ons hulle nie na julle toe gestuur het nie. Hulle het sonder ons toestemming na julle toe gegaan.

25. Ons het nou eenparig besluit om twee afgevaardigdes saam met ons twee geliefde broers, Barnabas en Paulus, na julle toe te stuur.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 15