Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 2:6-12 Die Boodskap (DB)

6. Maar wag, ek is nog besig om met julle te praat oor my ontmoeting met die leiers van die kerk in Jerusalem. Terloops, wie hulle vroeër was en wie hulle nou is, is regtig nie vir my belangrik nie. God kyk immers nie na mense se uiterlike nie.

7. Wel, hierdie belangrike mans was heeltemal tevrede met wat ek preek.

8. Hulle het besef dat God presies dieselfde boodskap aan my gegee het om aan mense buite Israel bekend te maak as wat Petrus onder die Jode verkondig. Natuurlik was dit nie vir my ’n verrassing nie. Dieselfde God wat Petrus as sy apostel aangestel het om onder mense te werk wat besny is, het my ook aangestel as sy apostel om onder mense te werk wat nie die teken van die besnydenis aan hulle liggame het nie.

9. Toe Jakobus, Petrus en Johannes dan sien dat God so goed is vir my, was hulle baie bly. Net daar het hulle my en Barnabas se hand geskud. Die handdruk van daardie drie steunpilare wat aan die stuur van die kerk in Jerusalem staan, het gewys dat ons almal broers in die Here is. Ons het toe die volgende besluit geneem:Ek en Barnabas sou onder mense werk wat nie Jode is nie. Die leiers van die kerk in Jerusalem sou onder Israel oor Jesus gaan preek.

10. Hulle het wel een versoek aan ons gerig: dat ons tog nie die armes in die Jerusalemgemeente moet vergeet nie. En, soos julle baie goed weet, is ek nog steeds besig om vir hulle geld in te samel.

11. ’n Ruk later, toe ek saam met Barnabas-hulle in die stad Antiogië gewerk het, het Petrus ook soontoe gekom. Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het. Kom ek vertel julle gou wat gebeur het.

12. Toe Petrus daar in Antiogië was, het hy heeltyd saam met die nie-Joodse gelowiges geëet wat ook deel van die gemeente was, totdat ’n klompie Joodse gelowiges in die gemeente aangekom het. Hulle was aanhangers van Jakobus, een van die leiers van die kerk in Jerusalem. Hierdie manne het steeds die besnydenis voorgestaan. Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat hulle sou sê as hulle sien dat hy nie meer die Joodse reëls oor rein en onrein kos gehoorsaam nie.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 2