hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 2 Die Boodskap (DB)

Die leiers van die kerk in

1. Veertien jaar na my vorige besoek aan Jerusalem het ek weer soontoe gegaan. Barnabas en Titus was ook saam.

2. Dit was egter nie my eie besluit nie. Nee, God het in ’n openbaring vir my kom wys dat ek Jerusalem toe moes gaan. Daar het ek die boodskap wat ek oral onder nie-Jode preek, aan die gelowiges in die stad voorgelê. Ek het ook privaat met die leiers van die kerk in Jerusalem gepraat, met al daardie mans wat so ’n groot naam in die kerk het. Ek het dit gedoen omdat ek doodseker wou maak dat my sendingwerk nie verniet was nie. Dink net wat sou gebeur het as Jerusalem se kerkleiers ernstige kritiek op my boodskap gehad het. Dan was al my harde werk daarmee heen.

3. Titus, wat saam met my Jerusalem toe gegaan het, was ’n Griek. Hy was nie besny soos die Joodse wet dit vereis nie. Gelukkig het die gelowiges in Jerusalem ook nie van hom verwag om dit te doen nie.

4. Maar daar was wel ’n paar mense wat wou hê dat hy besny moes word. Hierdie spul vals mense het die kerk skelm-skelm binnegesluip om te kom kyk of ons al die reëls en wette van die Jode nakom. Hulle wou die vryheid waarmee Jesus Christus ons vrygemaak het, van ons af wegvat en ons weer van voor af slawe van al hulle wette en reëls maak.

5. Maar ons het dit nie toegelaat nie. Met al ons krag het ons gekeer dat die regte evangelie wat ons preek deur hierdie spul verander word. Weet julle, ons het dit ter wille van julle gedoen. Ons wou doodseker maak dat die regte evangelie ook daar by julle in Galasië uitkom.

6. Maar wag, ek is nog besig om met julle te praat oor my ontmoeting met die leiers van die kerk in Jerusalem. Terloops, wie hulle vroeër was en wie hulle nou is, is regtig nie vir my belangrik nie. God kyk immers nie na mense se uiterlike nie.

7. Wel, hierdie belangrike mans was heeltemal tevrede met wat ek preek.

8. Hulle het besef dat God presies dieselfde boodskap aan my gegee het om aan mense buite Israel bekend te maak as wat Petrus onder die Jode verkondig. Natuurlik was dit nie vir my ’n verrassing nie. Dieselfde God wat Petrus as sy apostel aangestel het om onder mense te werk wat besny is, het my ook aangestel as sy apostel om onder mense te werk wat nie die teken van die besnydenis aan hulle liggame het nie.

9. Toe Jakobus, Petrus en Johannes dan sien dat God so goed is vir my, was hulle baie bly. Net daar het hulle my en Barnabas se hand geskud. Die handdruk van daardie drie steunpilare wat aan die stuur van die kerk in Jerusalem staan, het gewys dat ons almal broers in die Here is. Ons het toe die volgende besluit geneem:Ek en Barnabas sou onder mense werk wat nie Jode is nie. Die leiers van die kerk in Jerusalem sou onder Israel oor Jesus gaan preek.

10. Hulle het wel een versoek aan ons gerig: dat ons tog nie die armes in die Jerusalemgemeente moet vergeet nie. En, soos julle baie goed weet, is ek nog steeds besig om vir hulle geld in te samel.

Petrus word oor die kole gehaal

11. ’n Ruk later, toe ek saam met Barnabas-hulle in die stad Antiogië gewerk het, het Petrus ook soontoe gekom. Daar moes ek hom voor almal aanspreek omdat hy verkeerd opgetree het. Kom ek vertel julle gou wat gebeur het.

12. Toe Petrus daar in Antiogië was, het hy heeltyd saam met die nie-Joodse gelowiges geëet wat ook deel van die gemeente was, totdat ’n klompie Joodse gelowiges in die gemeente aangekom het. Hulle was aanhangers van Jakobus, een van die leiers van die kerk in Jerusalem. Hierdie manne het steeds die besnydenis voorgestaan. Toe hulle daar opdaag, het Petrus skielik opgehou om saam met nie-Joodse gelowiges te eet. Hy het dit gedoen omdat hy bang was oor wat hulle sou sê as hulle sien dat hy nie meer die Joodse reëls oor rein en onrein kos gehoorsaam nie.

13. Ongelukkig het Petrus die ander Joodse gelowiges beïnvloed om net soos hy te maak. Die uiteinde: kort voor lank het al die Joodse gelowiges eenkant gesit en eet en al die ander gelowiges op hulle eie. Selfs Barnabas, saam met wie ek daar in die kerk in Antiogië gewerk het, is deur hierdie skynheiligheid meegevoer.

14. Toe ek sien dat die gelowiges nie meer leef volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek ingegryp. Ek het Petrus daar voor almal vasgevat: “Jy wat ’n Jood is, leef lankal nie meer soos ’n Jood nie. Wie gee jou dan die reg om mense wat nie Jode is nie te dwing om nou skielik allerhande nuttelose Joodse gebruike na te kom?”

Geloof bring ’n mens in

15. Ons is Jode al van ons geboorte af en nie ’n klomp sondaars wat God glad nie ken nie. Tog is ons glad nie God se witbroodjies nie.

16. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie.

17. In ons pogings om Christus se vryspraak deelagtig te word, het ons ontdek dat ons sondaars is wat onsself glad nie kan red nie. Beteken dit dan dat Christus nou nog ’n slaaf van die sonde is omdat Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het? Nee, natuurlik nie! Hy het mos kant en klaar die prys vir die sonde namens ons betaal.

18. As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom.

19. Maar gelukkig is ek nou dood vir die wet. Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my.

20. Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer.

21. Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood.