Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 7:8-16 Die Boodskap (DB)

8. Ek weet dat ek julle baie omgekrap het in my vorige brief. Vroeër was ek baie spyt daaroor, nou nie meer nie. Dit het op die ou end goed uitgewerk. My brief het julle wel ’n kort rukkie ontstel, maar op die regte manier. Wat ek bedoel, is dat daardie brief julle teruggebring het na God toe.

9. Julle het met al julle hartseer reguit na Hom toe gegaan. Julle het glad nie enige skade as gevolg van my brief gely nie; inteendeel. Daaroor is ek regtig baie bly.

10. Weet julle, die regte soort hartseer, die soort wat God vra, bring ’n mens altyd terug na Hom toe. Dit bring jou by die ware lewe uit. Niemand kan spyt wees wanneer so iets met hulle gebeur nie, of hoe? Aan die ander kant help dit niks as jy jou hartseer vir jouself hou en nie daarmee na God toe gaan nie. Dan is jy op pad na die doderyk toe met jou trane en al.

11. Julle was op die regte manier hartseer, soos God dit wil hê. Julle was vasbeslote om die saak met Hom reg te maak. Kyk net watter wonderlike resultate het dit opgelewer: julle is nou nog meer daarop ingestel om julle verhouding met God reg te stel. Sonde vul julle met nog groter afsku. Julle wil niks daarmee te doen hê nie. Julle het ook baie groter eerbied vir God. Julle smag daarna om God beter te ken. Julle is nog yweriger om God met julle hele lewe te dien. Julle is meer as tevore bereid om verkeerde gedrag vas te vat.Julle het duidelik gewys dat julle onskuldig is in hierdie saak tussen my en daardie man wat my voor julle almal beledig het.

12. Dit is hoekom ek aan julle geskryf het. Ek was nie te veel bekommerd oor daardie man wat my so sleg behandel het of oor my eie eer nie. Nee, my doel was om julle die geleentheid te bied om voor God te wys hoeveel julle regtig vir my omgee. Ek is so bly dat dit toe ook gebeur het.

13. Ek kan nie genoeg sê hoe dankbaar ek oor julle reaksie is nie. Maar toe ek sien hoe opgewonde Titus oor julle is, was ek eers bly. Hy het met groot vrede in sy hart van julle af teruggekeer.

14. Vroeër, voordat Titus na julle is, het ek so ’n bietjie oor julle by hom gespog. Gelukkig het julle my toe nie teleurgestel nie. Titus het self gesien dat alles wat ek oor julle vertel het, die reine waarheid is. Nou praat hy net die hele tyd oor julle.

15. Sy liefde vir julle word by die dag groter. Julle toewyding het hom regtig baie beïndruk, so ook die respek en ontsag waarmee julle hom ontvang het.

16. Ek is dankbaar dat julle my nie in die steek gelaat het nie. Dis lekker om te weet dat ek altyd op julle kan reken.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 7