Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 11:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Wat my werkswyse betref: ek is glad nie van plan om die manier waarop ek vir die Here werk te verander nie. Ek sal daardie spul wat nou by julle optree se vals motiewe ontmasker. Hulle vertel glo vir julle dat hulle ook apostels is, net soos ek.

13. Maar hulle is ’n spul leuenaars wat net maak asof hulle deur Christus as sy apostels aangestel is.

14. Ook g’n wonder nie. Satan doen die hele tyd sulke bedrieglike dinge. Wanneer dit hom pas, verander hy hom selfs in ’n engel van die lig.

15. Daarom moet julle glad nie verbaas wees wanneer mense wat vir hom werk presies dieselfde doen nie. Hulle maak maar net asof hulle doen wat God vra. Daar wag groot probleme op sulke mense. Hulle sal die straf kry wat hulle verdien.

16. Onthou julle dat ek julle vroeër gevra het om my nie te gou as ’n dwaas af te skryf nie? Of anders, doen dit tog maar sodat ek ook ’n bietjie kan spog.

17. Wat ek nou sê, sê ek natuurlik nie met die gesag van die Here agter my nie. Nee, ek doen dit as ’n dwaas, en met die selfvertroue van ’n dwaas.

18. Omdat so baie mense oor wêreldse dinge spog, gaan ek nou dieselfde doen.

19. In elk geval, julle wat mos so verskriklik slim is, het glad nie ’n probleem om na dwase te luister nie, of hoe?

20. Julle hou mos daarvan as mense julle slawe maak van allerhande verkeerde leringe wat hulle in julle kele afdruk. Julle gee ook nie om as hulle julle geld vat met hulle vroom praatjies nie. Dis skynbaar ook nie vir julle ’n probleem dat hulle julle vir hulle eie gewin misbruik nie, of dat hulle op julle neersien en julle soos vloerlappe behandel nie.

21. Ek moet nou maar teenoor julle erken dat ek veels te swak is vir sulke behandeling. Ek sal dit nie vat as ander mense sulke dinge aan my doen nie.Julle hou ook baie daarvan as mense spog met al die groot dinge wat hulle vir die Here doen. Daarom doen ek dit nou ook. (Onthou tog net, dit is “die dwaas” wat nou aan die woord is.)

22. Daardie mense wat by julle preek, vertel vir almal dat hulle opregte Hebreërs is wat nog Hebreeus kan praat. Wel, ek ook. Hulle sê hulle is Israeliete. Ek ook. En lede van Abraham se nageslag. Ek ook.

23. Dink hulle miskien dat hulle sulke wonderlike dienaars van Christus is? Wel, ek is ’n nog beter dienaar van Christus as hulle. Nou raak ek totaal uitspattig!

24. Ek het harder gewerk as al daardie mense. Male sonder tal is ek in die tronk gegooi. Ek is meer kere geslaan as wat ek kan onthou. Dikwels het my lewe aan ’n draadjie gehang. Vyf maal het die Jode my laat gesel deur my die gebruiklike 39 houe te slaan.

25. Drie maal is ek met stokke toegetakel. Een keer is ek met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer het die skip waarop ek was, gesink. ’n Ander keer moes ek ’n hele dag en nag op die oop see ronddryf.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 11