Ou Testament

Nuwe Testament

1 Timoteus 6:1-15 Die Boodskap (DB)

1. Christene wat slawe is, moet hulle baas met respek behandel. Hulle moenie enigiemand rede gee om iets slegs te sê van God of van al die dinge wat ons oor Christus leer nie.

2. As die baas ook ’n Christen is, moet die slaaf nie dink dat hy die baas met minder respek hoef te behandel omdat hulle saam aan God se geestelike familie behoort nie. Christenslawe moet eerder nog beter werk, want hulle werk vir mede-Christene vir wie hulle lief is. Wat hulle doen, is mos tot ’n ander Christen se voordeel. Al hierdie dinge moet jy vir mense leer en hulle motiveer om dit te doen.

3. Sê nou iemand wil julle meer oor die godsdiens leer, maar hy vertel net ’n klomp stories wat nie waar is nie. Dit is glad nie wat die Here Jesus Christus vir ons vertel en geleer het nie. Na so iemand moet jy nie eens luister nie.

4. Hy self dink natuurlik hy weet baie, maar eintlik weet hy niks. Hy sal gewoonlik oor alles wil stry en ’n yslike argument begin oor wat ’n spesifieke woord nou juis beteken. Hierdie ongesonde houding van hom sal maak dat mense later vies raak vir mekaar. Hulle sal jaloers op mekaar word, lelike dinge van mekaar sê en mekaar so verdag maak.

5. Hulle sal aanmekaar stry en baklei omdat hulle deurmekaar is. Hulle sal nie meer mooi kan dink nie en dan nie meer weet wat waar is nie. Hulle dink dat godsdiens eintlik daar is om geld mee te maak.

6. Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie,

7. want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie.

8. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees.

9. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel.

10. Om agter geld aan te hardloop laat jou in die kloue van allerhande slegte dinge inhardloop. Daar is party mense wat eers aan die kerk behoort het, maar toe so agter geld begin aanloop het dat hulle vandag nie eens meer ’n lid van die kerk is nie. Ons weet hoe sleg dit nou met hulle gaan. Hulle het die een probleem op die ander.

11. Timoteus, jy is God s’n. Bly weg van al hierdie slegte dinge af. Doen eerder jou bes om so te leef dat God met jou tevrede voel. Hou aan om op God te vertrou en om oor te loop van liefde vir ander. Moenie moed verloor nie en hanteer ander mense altyd mooi sodat hulle goed voel om by jou te wees.

12. Toe jy ’n gelowige geword het, was dit nie net maanskyn en rose nie, maar jy het ’n vyand, Satan, gekry om teen te veg. Veg daardie geveg voluit deur naby aan God te bly, want dan sal jy ook vir ewig saam met Hom leef. God het jou geroep om dit te doen en jy het voor baie mense gesê dat jy dit sal doen. Wat ek nou vir jou sê, is nie net praatjies nie.

13. Ek sê dit voor God wat alles lewendig gemaak het en voor Christus Jesus wat, sonder om bang te wees vir Pontius Pilatus, voor almal gesê het waarvoor Hy staan.

14. Voor God en Christus vra ek mooi: doen al hierdie dinge presies so en moenie foute maak nie totdat ons Here Jesus Christus weer kom.

15. Dit sal gebeur wanneer God dink dat dit tyd daarvoor is. Dan sal Hy sorg dat dit gebeur. Hy is mos ons wonderlike en enigste Heerser. Hy regeer oor almal wat in hierdie wêreld regeer en Hy heers oor almal wat in die wêreld heers.

Lees volledige hoofstuk 1 Timoteus 6