Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 2:3-12 Die Boodskap (DB)

3. Julle het mos al ’n voorsmaak gehad van hoe goed die Here is.

4. Kom na Jesus toe. Ek wil die voorbeeld gebruik van ’n huis wat gebou word. Jesus kan vergelyk word met ’n steen (behalwe dat Hy leef). Die mense wou Hom nie vir die bou van die huis gebruik nie. God het egter daardie Steen tussen al die ander uitgekies. God het geweet dat daardie Steen baie werd is en het Hom op die beste plek in die huis ingebou.

5. Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik.

6. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het:“Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.”

7. As jy op Jesus vertrou, deel jy in hierdie eer van Hom. Vir hulle wat hulle nie aan Hom steur nie, sê die Skrif:“Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.”

8. En:“Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.”Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees.

9. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is.

10. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken.

11. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie.

12. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 2