hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 3 Bybel vir Almal (ABA)

Rut gaan na Boas op die dorsvloer

1. Eendag het Rut se skoonma Naomi vir haar gesê: “My dogter, ek moet vir jou ’n man kry wat vir jou kan sorg.

2. Ek sal vir jou sê wat ons moet doen. Jy was saam met die vroue wat vir Boas werk, en hy is familie van my. Hy gaan vannag die gars op die dorsvloer in die lug opgooi, sodat die wind die kaf wegwaai.

3. Jy moet jou was en lekkerruik-olie aan jou smeer en jou mooi aantrek, en dan moet jy na die dorsvloer gaan. Maar jy moenie dat Boas sien wie jy is nie. Wanneer hy klaar geëet en gedrink het

4. en gaan slaap, dan moet jy kyk waar hy gaan lê, en dan moet jy die kombers optel en by sy voete gaan lê. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen.”

5. Rut het vir Naomi gesê: “Ek sal alles doen wat jy sê.”

6. Rut het na die dorsvloer gegaan en sy het alles gedoen wat haar skoonma gesê het.

7. Boas het lekker geëet en gedrink en hy het gelukkig gevoel. Hy het gaan lê en slaap langs die hoop gars. Rut het saggies gekom en sy kombers opgetel en by sy voete gaan lê.

8. Toe Boas in die middel van die nag wakker word, het hy gesien daar lê ’n vrou by sy voete.

9. Hy het gevra: “Wie is jy?”Rut het gesê: “Ek is Rut, en jy moet vir my sorg, want jy is ’n losser.”

10. Boas sê toe: “Dogter, die Here sal jou seën. Jy het by jou skoonma gebly, en nou wil jy ook in die familie bly. Jy kon ’n jongman gekies het, ’n arm of ’n ryk jongman, maar jy het dit nie gedoen nie.

11. En nou, dogter, jy moenie bekommerd wees nie. Ek sal alles doen wat jy gevra het, want almal in my stad weet dat jy ’n goeie vrou is.

12. Dit is waar dat ek ’n losser is, maar daar is ’n ander man wat nader familie is en wat ook ’n losser is.

13. Bly vannag hier, en as hy môre sê hy sal vir jou sorg, dan is dit goed. Maar as hy dit nie wil doen nie, dan sal ek dit doen. Ek belowe dit en die Here is die getuie. Slaap nou tot môre.”

14. Rut het by Boas se voete gelê tot die volgende oggend, maar sy het opgestaan toe dit nog donker was, want Boas het gesê niemand moet weet dat daar ’n vrou na die dorsvloer gekom het nie.

15. Boas het gesê sy moet die doek bring wat om haar lyf is, en sy moet dit vashou. Sy het dit gedoen, en hy het ses kruike vol gars op die doek gegooi en dit op haar skouers getel. Sy het na die stad gegaan,

16. en toe sy by haar skoonma kom, vra Naomi vir haar: “My dogter, hoe het dit gegaan?”Rut het vir haar alles vertel wat Boas vir haar gedoen het

17. en sy het gesê: “Hierdie ses kruike gars het hy vir my gegee en hy het gesê ek mag nie by my skoonma kom en niks vir haar saambring nie.”

18. Naomi het gesê: “Nou moet jy wag totdat jy weet wat gebeur. Die man sal nie ophou voordat hy vandag gedoen het wat hy gesê het nie.”