hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 4 Bybel vir Almal (ABA)

Boas trou met Rut en sy kry ’n seun

1. Boas was toe al in die poort van die stad. Hy het daar gaan sit. Toe kom die ander man daar verby, die man wat ook ’n losser was. Boas het vir hom gesê: “My vriend, kom sit asseblief hier.”Die man het dit gedoen.

2. Boas het tien van die stad se leiers geroep om ook daar te kom sit. Hulle het dit gedoen.

3. Toe sê hy vir die man: “Daar is ’n stuk grond wat behoort het aan Elimelek wat familie van ons was. Naomi het teruggekom uit die land Moab, en sy wil hê dat ’n man wat familie is van haar man, die grond moet koop.

4. Ek het gedink ek sal dit self vir jou sê. Jy mag nou die grond koop as jy wil, hier waar almal dit kan sien, die manne wat hier sit, die leiers van my volk. As jy dit nie wil doen nie, dan moet jy dit vir my sê, want dan moet ek dit koop.”Die man het gesê: “Goed, ek sal die grond koop.”

5. Toe sê Boas: “Wanneer jy die grond by Naomi koop, dan kry jy ook die Moabitiese vrou Rut, die vrou van Naomi se oorlede seun. Dan moet jy ’n seun by haar kry wat die grond eendag kan erf.”

6. Toe sê die man: “Nee, dan kan ek nie die grond koop nie, want as ek met Rut trou, dan sal ek miskien die familie-grond verloor wat ek klaar het. Jý moet Naomi se grond koop, ek kan nie.”

7. Daardie tyd, wanneer iemand nie ’n familielid kon help nie, dan het hy sy sandaal uitgetrek en dit vir die ander persoon gegee. Wanneer ’n man ’n stuk grond geruil het by iemand, dan het hy ook sy sandaal vir die ander man gegee. Dan het al die Israeliete dit geweet.

8. Die man het vir Boas gesê: “Jý moet die grond koop,” en hy het sy sandaal uitgetrek.

9. Toe sê Boas vir die leiers en vir almal wat daar was: “Julle is vandag die getuies dat ek by Naomi alles koop wat aan Elimelek en aan Maglon en Kiljon behoort het.

10. Ek neem ook die Moabitiese vrou Rut, die vrou van Maglon. Ek sal met haar trou, en as sy ’n seun kry, dan sal hy eendag die grond kry. So sal die naam van haar oorlede man nie verdwyn uit sy familie en uit die stad nie. Julle is vandag die getuies.”

11. Al die mense in die poort en al die leiers het gesê: “Ja, ons is getuies. Ons bid dat die vrou wat nou in jou huis sal kom, soos Ragel en Lea sal wees, die twee vroue uit wie die volk Israel kom. Ons bid dat jy ryk sal word en dat jy ’n belangrike man sal wees hier in Betlehem.

12. Ons bid dat die kinders wat die Here vir jou en hierdie jong vrou sal gee, sal wees soos die kinders van Peres, die seun van Juda en Tamar.”

13. Boas het met Rut getrou, en die Here het vir haar ’n seun gegee.

14. Die vroue het vir Naomi gesê: “Ons prys die Here wat iemand gegee het wat jou nou kan help. Ons bid dat hierdie kind ’n belangrike man sal word in die volk Israel.

15. Ons bid dat hy jou gelukkig sal maak en vir jou sal sorg wanneer jy oud is. Hy is die kind van jou skoondogter wat baie lief is vir jou en wat vir jou beter is as sewe seuns.”

16. Naomi het die kind op haar skoot geneem en sy het vir hom gesorg.

17. Die buurvroue het vir die seun ’n naam gegee. Hulle het gesê: “Naomi het nou ’n kind,” en hulle het hom Obed genoem. Obed was die pa van Isai, en Isai was die pa van Dawid.

18. Hier is ’n lys van die nageslag van Peres: Peres was die pa van Gesron,

19. Gesron was die pa van Ram, Ram was die pa van Amminadab,

20. Amminadab was die pa van Nagson, Nagson was die pa van Salma,

21. Salma was die pa van Boas, Boas was die pa van Obed,

22. Obed was die pa van Isai, en Isai was die pa van Dawid.