hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 2 Bybel vir Almal (ABA)

Boas en Rut ontmoet mekaar

1. Daar was ’n man wat familie was van Naomi se man Elimelek. Die man was ryk en sy naam was Boas.

2. Rut, die Moabitiese vrou, het vir Naomi gevra: “Mag ek asseblief na ’n garsland gaan en gars-are gaan optel by iemand wat my toelaat om dit te doen?”Naomi het gesê: “My dogter, jy mag gaan.”

3. Rut het toe gegaan om die gars-are op te tel wat geval het wanneer die mense die are afsny. Dit het gelukkig so gebeur dat sy gekom het by die garsland wat behoort het aan Boas, die man wat familie was van Elimelek.

4. Boas het dieselfde tyd van Betlehem gekom. Hy het die mense gegroet wat die gars afsny, en hy het gesê: “Ek bid dat die Here by julle sal wees.”En hulle het geantwoord: “Ons bid dat die Here jou sal seën.”

5. Toe vra Boas vir sy slaaf wat moes kyk dat die mense goed werk: “Wie is hierdie jong vrou?”

6. Die slaaf het geantwoord: “Sy is ’n jong Moabitiese vrou. Dit is sy wat saam met Naomi uit die land Moab gekom het.

7. Sy het gevra of sy die are mag optel wat val wanneer die mense die gars afsny. Sy het gekom en sy het van vanoggend tot nou toe gewerk, sy het nie by die huis gaan rus nie.”

8. Boas sê toe vir Rut: “Dogter, luister, jy moenie in ’n ander garsland gaan are optel nie. Jy moet ook nie hier weggaan nie. Bly naby die vroue wat vir my werk.

9. Kyk waar hulle die gars afsny en loop agter hulle. Ek het vir my slawe gesê hulle moenie vir jou pla nie. En jy kan water gaan drink uit die kruike wat my slawe volgemaak het.”

10. Rut het laag op die grond gebuig en sy het vir Boas gesê: “Hoekom is jy so vriendelik met my? Hoekom praat jy met my? Ek kom uit ’n ander land.”

11. Toe sê Boas vir Rut: “Die mense het vir my alles vertel, hulle het vir my vertel wat jy vir jou skoonma gedoen het nadat jou man dood is. Ek weet jy het weggegaan van jou ouers en jou land en jou familie en jy het na mense toe gekom wat jy voorheen nie geken het nie.

12. Jy het gekom na die Here, die God van Israel, sodat Hy jou kan beskerm. Ek bid dat die Here goed sal wees vir jou omdat jy dit gedoen het.”

13. Rut het gesê: “Dankie, Meneer, ek is nie een van die vroue wat vir jou werk nie, maar jy is vriendelik met my en jy is goed vir my. Jy sê mooi dinge vir my.”

14. Toe dit tyd was om te eet, sê Boas vir Rut: “Kom eet saam met ons. Neem vir jou van die brood en druk dit in die wyn.”Sy het toe kom sit by die mense wat die gars afsny, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Sy het genoeg geëet en daar was nog koring oor.

15. Toe sy weer begin om are op te tel, het Boas vir sy werkers gesê: “Sy kan ook are optel tussen die gars-gerwe, en julle moenie vir haar pla nie.

16. Julle moet ook are uit die gerwe trek en dit laat val sodat sy dit kan optel, en julle moenie met haar raas nie.”

17. Rut het tot die aand are opgetel, en toe sy die are wat sy opgetel het, uitslaan om die korrels uit te haal, was dit ’n groot mandjie vol.

18. Sy het dit geneem en na die stad gegaan en vir haar skoonma gewys wat sy opgetel het. Sy het ook van die gebraaide koring uitgehaal wat die middag oorgebly het en sy het dit vir haar skoonma gegee.

19. Haar skoonma het gesê: “Waar het jy vandag are opgetel? Waar het jy gewerk? Ek bid dat die Here die man sal seën wat so goed was vir jou.”Rut het vir haar skoonma vertel by wie sy gewerk het. Sy het gesê: “Die man by wie ek vandag gewerk het, is Boas.”

20. Toe sê Naomi vir haar skoondogter: “Die Here was goed vir ons mans wat dood is, en Hy is goed vir ons. Ek bid dat Hy die man sal seën. Hy is familie van ons, hy is een van ons lossers.”

21. Rut, die Moabitiese vrou, het gesê: “Die man het ook vir my gesê dat ek naby die mense moet bly wat vir hom werk, totdat hulle al die gars klaar afgesny het.”

22. Toe sê Naomi vir haar skoondogter Rut: “My dogter, dit is goed dat jy saam met die vroue loop wat vir hom werk. Op ’n ander garsland sal die mense jou miskien pla.”

23. Rut het toe naby die vroue gebly wat vir Boas gewerk het, en sy het are opgetel totdat hulle die gars en die koring klaar afgesny het. Sy het by haar skoonma gewoon.