Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:18-27 Bybel vir Almal (ABA)

18. En onthou, julle moet versigtig wees met alles wat aan die Here gewy is, julle moenie iets vat wat aan die Here gewy is nie. As julle dit doen, dan sal die kamp van Israel ook aan die Here gewy wees, en dan bring julle die dood in die kamp.

19. Die silwer en die goud en die goed van brons en yster is aan die Here gewy, julle moet dit sit in die stoorkamer van die Here.”

20. Die manne het geskree om die oorlog te begin, en hulle het die ramshorings geblaas. Toe die manne hoor die ramshorings blaas, het hulle hard geskree om die oorlog te begin. Die muur van die stad het omgeval, en die manne het opgeklim in die stad, elkeen het reguit vorentoe in die stad ingegaan en hulle het die stad oorwin.

21. Hulle het almal en alles in die stad doodgemaak, mans en vroue, jongmense en oumense, beeste, skape en donkies.

22. Josua het vir die twee mans wat gaan kyk het hoe die land is, gesê: “Gaan na die huis van die prostituut en bring haar en al haar mense uit. Doen dit, want julle het dit vir haar belowe.”

23. Die jongmanne wat gaan kyk het hoe die land is, het gegaan en hulle het vir Ragab, haar ouers, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring. Die jongmanne het hulle buite die kamp van die Israeliete laat bly.

24. Die manne het die stad en alles wat daarin was, verbrand. Hulle het net die silwer en die goud en die goed van brons en yster in die stoorkamer van die tempel gesit.

25. Josua het vir Ragab en haar familie, al haar mense, laat aanhou lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, want sy het die boodskappers weggesteek wat Josua gestuur het om te kyk hoe die land is.

26. In daardie tyd het Josua met die mense gepraat en hy het gesê die Here is die getuie. Josua het gesê: “Ek vervloek die man wat probeer om hierdie stad Jerigo weer te bou. Sy oudste seun sal sterf wanneer hy die fondamente van die stad bou, en sy jongste seun sal sterf wanneer hy die poorte se deure insit.”

27. Die Here was by Josua, en al die mense in die land het geweet van hom.

Lees volledige hoofstuk Josua 6