Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 6:5-20 Bybel vir Almal (ABA)

5. Hulle moet ook die goue goed en silwergoed teruggee wat aan die tempel behoort. Nebukadnesar het die goed weggevat uit die tempel in Jerusalem en hy het dit na Babel gebring. Hulle moet die goed terugbring na die tempel in Jerusalem. Dit moet daar wees, hulle moet dit daar in die tempel sit.

6. Koning Darius het toe geskryf:Tattenai, goewerneur van Wes-Eufraat, en Setar-Bosnai en almal saam met julle, amptenare in Wes-Eufraat, ek sê nou vir julle, julle moenie die mense pla wat daar bou nie.

7. Die mense moet aanhou om daardie tempel te bou, en niemand moet hulle probeer stop nie. Die goewerneur en die leiers van die Judeërs mag daardie tempel weer bou waar dit gestaan het.

8. En ek sê nou wat julle moet doen om hierdie leiers van die Judeërs te help om daardie tempel te bou. Julle moet dadelik vir hierdie manne alles gee wat hulle nodig het. Julle mag dit neem van die belasting wat ek moet kry uit die provinsie Wes-Eufraat.

9. Julle moet ook elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het: jong bulle, ramme en lammers vir die brand-offers vir die God van die hemel. Julle moet ook vir hulle koring, sout, wyn en olyf-olie gee. Julle moet dit dadelik doen, elke dag.

10. Julle moet dit gee sodat die priesters offers kan bring wat lekker ruik vir die God van die hemel, en sodat hulle vir die koning en sy kinders kan bid.

11. Ek sê ook dat wanneer enige iemand nie doen wat ek nou sê nie, dan moet hulle ’n balk van sy huis vat en hulle moet hom aan die balk vasslaan met spykers. Hulle moet ook sy huis afbreek.

12. Ek bid dat die God wat in daardie tempel woon, dit sleg sal laat gaan met elke koning en volk wat nie doen wat ek sê nie, met almal wat hierdie tempel probeer verwoes. Ek, Darius, sê dit, en hulle moet die tempel gou en goed bou.

13. Tattenai, die goewerneur van die provinsie Wes-Eufraat, en Setar-Bosnai en die ander amptenare saam met hulle het dadelik gedoen wat koning Darius in die brief gesê het.

14. Die leiers van die Judeërs het aangehou bou, en dit het goed gegaan. Dit was soos die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo gesê het. Die Judeërs het die tempel klaar gebou soos die God van Israel gesê het en soos koning Kores en koning Darius en koning Ahasveros van Persië gesê het.

15. Hulle het hierdie tempel klaargemaak op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar nadat Darius koning geword het.

16. Die Israeliete, die priesters en die Leviete, en die ander mense wat teruggekom het uit Babel, was baie bly toe hulle daardie tempel gewy het.

17. Hulle het 100 bulle, 200 skaap-ramme en 400 lammers ge-offer om daardie tempel te wy. Hulle het ook twaalf bok-ramme gebring om ’n sonde-offer te wees vir die hele volk Israel, vir die twaalf stamme.

18. Hulle het groepe priesters en Leviete gekies en aangestel om die werk van God in Jerusalem te doen. Hulle het dit gedoen soos geskryf is in die Boek van Moses.

19. Die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het, het die Paasfees gevier op die veertiende dag van die eerste maand.

20. Al die priesters en die Leviete het hulleself gereinig, almal was rein. Hulle het die paaslam geslag vir almal wat teruggekom het uit Babel, hulle het dit geslag vir mekaar en vir hulleself.

Lees volledige hoofstuk Esra 6