Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 8:4-16 Bybel vir Almal (ABA)

4. En toe sien ek die lig wat om die Koning, die God van Israel, is. Dit was dieselfde soos die lig wat ek gesien het in die vallei.

5. Die Here het vir my gesê: “Mens, kyk noord.”Ek het na die noorde gekyk, en toe sien ek daardie beeld by die altaar, die beeld wat vir God so kwaad maak. Dit was by die noordekant van die poort, by die ingang.

6. Die Here het vir my gesê: “Mens, sien jy nou self wat hulle doen? Sien jy watter baie slegte dinge doen die volk Israel hier ver weg van die tempel? Maar jy sal nog meer slegte dinge sien.”

7. Hy bring my toe tot by die ingang na die oop stuk grond, en daar is toe ’n gat in die muur.

8. Toe sê die Here vir my: “Mens, jy moet nou die gat groter maak, sodat jy kan deurgaan.”Ek het dit gedoen, en toe sien ek daar ’n ingang.

9. Die Here het vir my gesê: “Gaan kyk na die baie slegte dinge wat hulle hier doen.”

10. Ek het gaan kyk, en daar sien ek toe dat mense oral teen die mure verskillende goed geteken en uitgekrap het. Dit was tekeninge van lelike diere, klein diertjies en groot diere, en tekeninge van al die ander afgode van die volk Israel.

11. Voor die tekeninge het 70 van die leiers van die volk Israel gestaan. Jaäsanja seun van Safan het tussen hulle gestaan. Elke leier het ’n wierook-pan in sy hand gehad, en die rook van die wierook het uit die panne opgekom.

12. Toe sê die Here vir my: “Mens, sien jy wat doen die leiers van die volk Israel hier in die donker, elkeen in sy kamer wat vol afgodsbeelde is? Hulle dink Ek sien hulle nie, hulle dink die Here het die land gelos.”

13. Maar toe sê die Here vir my: “Jy sal nog meer slegte dinge sien wat hulle doen.”

14. Die Here bring my toe tot by die ingang van die poort noord van die tempel, en daar sien ek toe vroue sit, hulle was besig om te huil oor Tammus.

15. Die Here het vir my gesê: “Mens, sien jy dit? Jy sal nog slegter dinge sien as hierdie dinge.”

16. Toe bring Hy my na die binneste oop stuk grond by die tempel. Daar het omtrent 25 mans gestaan, en hulle rug was na die tempel. Hulle gesig was na die ooste, en hulle het na die ooste gebuig vir die son. Hulle was by die ingang van die tempel van die Here, tussen die voorportaal en die altaar.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 8