Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 32:13-29 Bybel vir Almal (ABA)

13. Ek sal al die diere van Egipte laat verdwyn, die diere by die baie water. ’n Mens se voet of ’n dier se poot sal nie weer die water vuil maak nie.

14. Dan sal Ek die water weer stil laat word, die riviere sal soos strome olyf-olie vloei.

15. Ek sal Egipte ’n land maak waar niemand kan woon nie en Ek sal alles wegvat wat in die land is. Ek sal almal laat sterf wat in die land woon, dan sal hulle weet dat Ek die Here is.

16. Hierdie lied is ’n klaaglied. Die vroue van die volke moet dit sing. Hulle moet ’n klaaglied sing oor die farao en al sy soldate.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

17. Die Here het met my gepraat. Dit was in die twaalfde jaar, op die vyftiende dag van die maand. Ek het gehoor die Here sê vir my:

18. “Mens, jy moet huil en treur, jy moet sing oor die soldate van Egipte wat sal sterf. Jy moet hulle en die vroue van belangrike volke laat gaan na die land daar onder, saam met die mense wat afgaan in die graf.

19. Jy moet vir Egipte sê: ‘Jy is nie beter as die ander lande nie, jy moet afgaan en by die mense daar onder gaan lê, niemand respekteer daardie mense nie.’

20. Egipte en al sy soldate sal val tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Ek het hulle vir die swaard gegee. Die vyande sal hulle wegsleep.

21. Die belangrike manne wat oorlog gemaak het, sal uit die doderyk praat, hulle sal oor Egipte en oor almal wat vir Egipte gehelp het, sê: ‘Hulle gaan af, hulle gaan lê by die mense wat dood is. Daardie mense het in oorlog gesterf, niemand respekteer hulle nou nie.’

22. “Assirië en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf.

23. Die grafte van Assirië is in die verste plekke van die doderyk. Sy mense lê rondom hom in hulle grafte. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het almal in oorlog gesterf.

24. “Elam en al sy soldate is daar. Hulle grafte is rondom hom. Hulle het almal in oorlog gesterf. Niemand respekteer hulle nou nie. Hulle moes afgaan na die land daar onder. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar nou is hulle nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat in die graf afgaan.

25. Elam moet gaan lê tussen die mense wat in oorlog gesterf het. Al sy soldate se grafte is rondom hom. Niemand respekteer hulle nou nie. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar hulle het in oorlog gesterf en hulle is nie meer belangrik nie, hulle is by die mense wat afgaan in die graf, hulle is tussen die dooie mense.

26. “Mesek-Tubal en al sy soldate is ook daar. Hulle grafte is rondom hom. Niemand respekteer hulle nou nie. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle, maar die vyande het hulle doodgemaak.

27. Mesek-Tubal en al sy soldate lê nie saam met die dapper soldate wat gesterf het en wat apart lê nie. Die dapper soldate lê nie by die mense vir wie niemand respekteer nie. Die dapper soldate het afgegaan na die doderyk, hulle wapens is by hulle. Hulle swaarde lê onder hulle koppe en hulle skilde lê oor hulle bene. Toe hulle gelewe het, was almal bang vir hulle.

28. “Egipte, jy sal ook stukkend breek, en jy sal moet gaan lê saam met die ander wat in oorlog gesterf het.

29. “Edom en sy konings en die ander mense wat oor hom regeer het, is ook daar. Hulle was sterk, maar hulle het in oorlog gesterf. Hulle lê by die dooie mense, niemand respekteer daardie mense nou nie, hulle is by die mense wat afgaan in die graf.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 32