Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31:5-20 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die Here sal julle laat wen teen hierdie volke, en julle moet alles met hulle doen wat ek vir julle gesê het.

6. Julle moet sterk en dapper wees, julle moenie bang wees nie, julle moenie skrik vir hulle nie, want julle God die Here gaan self saam met julle, Hy sal julle help en Hy sal julle nie alleen los nie.”

7. Moses het vir Josua geroep en hy het voor al die Israeliete vir Josua gesê: “Jy moet sterk en dapper wees, want dit is jý wat saam met hierdie volk moet gaan na die land wat die Here belowe het om vir hulle voorvaders te gee, jý moet vir hulle die land gee, dit sal hulle land wees.

8. Dit is die Here self wat voor jou gaan, Hy self sal by jou wees, Hy sal jou help en Hy sal jou nie alleen los nie. Jy moenie bang wees nie, jy moenie skrik nie.”

9. Moses het hierdie wette neergeskryf en hy het dit vir die priesters van die nageslag van Levi gegee, die priesters wat die verbondskis van die Here dra. Hy het die wette ook vir die leiers van die Israeliete gegee.

10-11. Moses het vir hulle gesê: “Julle moet hierdie wette elke sewende jaar vir al die Israeliete lees. Dit is die jaar wanneer julle moet sê dat mense die geld mag hou wat hulle vir julle skuld, hulle moenie die geld terugbetaal nie. Julle moet die wette lees op die Hutte-fees, wanneer al die Israeliete voor julle God die Here moet kom staan op die plek wat Hy sal kies.

12. Julle moet die volk laat bymekaarkom, die mans, die vroue en die kinders, en ook die vreemdelinge wat in julle stede is, sodat hulle kan hoor en kan leer en sodat hulle ook julle God die Here kan eer en alles kan doen wat hierdie wette sê.

13. Hulle kinders wat nie die wette ken nie, moet dit hoor en hulle moet leer om julle God die Here altyd te eer, so lank soos julle sal lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”

14. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet luister, jou tyd om te sterf is naby. Roep vir Josua en kom staan in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, sodat Ek vir Josua kan sê wat hy moet doen.”Moses en Josua het toe voor die tent gaan staan waar die Here aan die Israeliete verskyn.

15. Die Here het by die tent verskyn in ’n wolk. Die wolk het gaan staan by die ingang van die tent.

16. Die Here het vir Moses gesê: “Jy sal sterf, en dan sal hierdie volk begin om ontrou te wees. Hulle sal die gode van die ander volke dien in die land waarnatoe hulle gaan. Die volk sal My los en hulle sal my verbond breek wat Ek met hulle gemaak het.

17. Ek sal dan baie kwaad word vir hulle. Ek sal hulle los en Ek sal hulle nie wil sien nie. Dan sal dit sleg begin gaan met hulle, hulle sal baie swaar begin kry. En dan sal hulle sê: ‘Dit gaan sleg met ons omdat ons God nie by ons is nie.’

18. Maar Ek sal hulle glad nie wil sien nie omdat hulle verkeerd gedoen het, omdat hulle ander gode begin dien het.

19. Daarom moet jy hierdie lied neerskryf en jy moet dit vir die Israeliete leer. Hulle moet die lied ken, sodat die lied vir My ’n getuie sal wees teen hulle.

20. Want Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle voorvaders belowe het, ’n land waar daar baie melk en heuning is. Hulle sal genoeg eet en vet word en hulle sal ander gode begin dien. Hulle sal dink Ek is nie belangrik nie en hulle sal my verbond breek.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 31