Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die koningin van die land Skeba het gehoor dat die mense oor Salomo praat, en sy het gekom om te hoor of hy regtig so baie wysheid het. Sy het na Jerusalem gekom, en daar was baie mense saam met haar, ook kamele wat speserye en baie goud en duur edelstene gedra het. Sy het na Salomo toe gekom en sy het vir hom alles gevra wat sy wou vra.

2. Koning Salomo het geweet hoe om alles te antwoord wat sy gevra het. Daar was nie een vraag wat vir hom te moeilik was nie.

3-4. Toe die koningin van Skeba alles hoor wat hy sê en toe sy alles sien, was sy baie verbaas oor Salomo se wysheid. Sy het die tempel gesien wat hy gebou het, ook die kos op sy tafel en sy amptenare wat by die tafel sit, sy bediendes wat daar staan, die klere wat hulle aangetrek het, die manne wat wyn in die bekers gooi en die klere wat hulle aangetrek het, en sy het ook gesien hoe Salomo opgegaan het na die tempel.

5. Sy het vir die koning gesê: “Ek het in my land gehoor van die dinge wat jy alles doen en ek het gehoor van jou wysheid. Dit is alles waar.

6. Ek het dit nie geglo nie, maar nou het ek gekom en ek het dit self gesien. En regtig, ek het nog nie alles gehoor nie, ek het minder as die helfte gehoor. Jy is ’n wyse man, en jy is baie ryk. Mense het my vertel dat jy ryk is, maar jy is baie ryker.

7. Die manne wat vir jou werk en wat altyd by jou is, is gelukkige mense, want hulle kan luister na die wyse dinge wat jy sê.

8. Ek prys jou God die Here wat so baie van jou hou dat Hy jou op sy troon laat sit. Jou God die Here self het jou koning laat word. Jou God het dit gedoen omdat Hy lief is vir Israel. Hy het jou koning laat word oor hulle, sodat jy reg kan doen en regverdig kan wees.”

9. Die koningin van Skeba het vir koning Salomo 120 talente goud gegee en baie speserye en edelstene. Daar was nooit weer so baie speserye in die land Israel soos die speserye wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.

10. Die manne van Hiram en die manne van Salomo wat goud in Ofir gaan haal het, het ook jenewerhout en edelstene saamgebring.

11. Die koning het die jenewerhout gebruik om tralies te maak in die tempel en in die paleis en ook om liere en harpe te maak vir die mense wat moes sing. Niemand het weer in die land Juda hout gesien wat so mooi is nie.

12. Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê, hy het alles gegee wat sy gevra het. Dit was meer as die goed wat sy vir die koning gebring het. Sy en haar amptenare het toe teruggegaan na haar land.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9