Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die koning het boodskappers gestuur en hy het gesê die leiers van Juda en Jerusalem moet bymekaarkom by hom.

2. Hy het na die tempel gegaan. Al die leiers van Juda en Jerusalem was saam met hom, en ook die priesters en die profete en al die mense, die belangrike én die onbelangrike mense. Hy het vir hulle gelees wat geskryf is in die verbondsboek wat die hoëpriester in die tempel gekry het.

3. Daarna het die koning by die pilaar gaan staan. Hy het belowe dat Hy die Here altyd sal dien en dat hy alles sal doen wat die wette van die Here sê. Hy het belowe om te doen wat die Here wil hê en om die verbond te hou waaroor daar in die boek geskryf is. Al die mense het dit saam met die koning belowe.

4. Die koning het gesê die hoëpriester Gilkija en die ander belangrike priesters en die wagte by die deure van die tempel moet al die goed uit die tempel bring wat die mense gemaak het vir Baäl en vir Asjera en vir die son en die maan en die sterre. Hulle het die goed verbrand buite Jerusalem in die Kedron-vallei en hulle het die as na die stad Bet-El geneem.

5. Die konings van Juda het voorheen priesters aangestel vir die afgode. Die priesters moes wierook brand op die offer-plekke by die stede van Juda en buite Jerusalem. Hulle moes dit brand vir Baäl, vir die son en die maan en al die sterre. Koning Josia het gesê hierdie priesters mag nie meer priesters wees nie.

6. Hy het ook die beeld van Asjera uit die tempel laat bring en hy het die beeld buite Jerusalem in die Kedron-vallei laat verbrand. Daarna het hy dit fyngestamp en hy het die as weggegooi op die grafte van die gewone mense.

7. Hy het die kamers van die mansprostitute by die tempel laat afbreek. Dit is waar die vroue klere geweef het vir Asjera.

8. Koning Josia het al die priesters wat by die stede van Juda gewerk het, na Jerusalem laat kom. Hy het die offer-plekke ontwy waar hierdie priesters wierook gebrand het, van die stad Geba tot by die stad Berseba. Hy het ook die offer-plekke van die veldgode laat afbreek. Hierdie offer-plekke was voor die poort van die huis van Josua, die burgemeester. Dit was links langs die poort van die stad.

9. Die priesters wat by die offer-plekke gewerk het, mag nie by die altaar van die Here in Jerusalem gewerk het nie, maar hulle mag ongesuurde brood geëet het saam met die priesters van die tempel.

10. Daar was ’n plek in die Ben-Hinnom-vallei waar mense hulle kinders verbrand het. Die koning het die plek laat ontwy sodat niemand sy kind daar vir Molek kon offer nie.

11. Hy het ook die beelde van die perde laat wegvat wat die konings van Juda laat maak het. Die mense het die son by die beelde aanbid. Die beelde het gestaan op die oop stuk grond voor die poort van die tempel by die kamer van die paleisbediende Netan-Melek. Die koning het ook die waens laat verbrand wat by die beelde was.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23