Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:16-27 Bybel vir Almal (ABA)

16. Hulle was ongehoorsaam aan al die wette van hulle God die Here. Hulle het twee kalfbeelde gemaak en hulle het ’n gewyde paal ingeplant. Hulle het gebuig voor die son en die maan en al die sterre, en hulle het vir Baäl gedien.

17. Hulle het hulle kinders verbrand. Hulle het gedink dat hulle dinge weet wat ander mense nie kan weet nie en dat hulle na tekens kan kyk en kan sê wat sal gebeur. Hulle het dit geniet om slegte dinge te doen waarvan die Here nie hou nie, dinge wat Hom kwaad maak.

18. Die Here het baie kwaad geword vir die mense van Israel en Hy het hulle weggegooi. Net die Juda-stam het oorgebly.

19. Maar die mense van Juda was ook ongehoorsaam aan die wette van die Here, hulle het gelewe soos die mense van Israel.

20. Die Here het gesê die hele nageslag van Israel behoort nie meer aan Hom nie. Die Here het hulle laat swaarkry en Hy het mense in die land laat kom wat hulle goed kom vat het. En toe het die Here hulle heeltemal weggegooi.

21. Ja, die Here het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, en die mense van Israel het vir Jerobeam seun van Nebat koning gemaak. Jerobeam het die mense van Israel laat ophou om gehoorsaam te wees aan die Here, hy het hulle ’n groot sonde laat doen.

22. Die mense van Israel het al die sondes gedoen wat Jerobeam gedoen het. Hulle het aangehou om dit te doen,

23. totdat die Here die mense van Israel weggegooi het. Die Here het hulle voorheen gewaarsku dat Hy dit sal doen toe Hy al sy dienaars die profete na hulle toe gestuur het. Die vyande het die mense van Israel gevang en weggevat uit hulle land, en die mense van Israel is vandag nog in Assirië.

24. Die koning van Assirië het mense gebring uit die stede Babel en Kuta en Awwa en Hamat en Sefarwajim, en hy het hulle in die plek van die mense van Israel laat woon in die stede van Samaria. Hulle het die land Samaria gevat en in die stede gaan woon.

25. Toe hulle daar kom woon het, het hulle eers nie die Here gedien nie, en die Here het leeus gestuur om party van hulle dood te maak.

26. Party mense het toe vir die koning van Assirië ’n boodskap gestuur en gesê: “Jy het volke gevang en weggevat en jy het hulle in die stede van Samaria laat woon. Daardie volke ken nie die wette van die God van die land nie, en Hy het toe leeus gestuur om hulle dood te byt omdat hulle nie die wette van die God van die land ken nie.”

27. Die koning van Assirië het toe gesê: “Julle moet een van die priesters wat julle daar gevang en weggevat het, laat teruggaan. Julle moet die priester daar in die land Israel laat woon sodat hy vir die mense die wette van die God van die land kan leer.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17