Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Hosea seun van Ela het in Samaria koning van Israel geword in die twaalfde jaar nadat Agas koning van Juda geword het. Hosea was nege jaar lank koning.

2. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, maar hy was nie heeltemal so sleg soos die konings van Israel voor hom nie.

3. Toe koning Salmaneser van Assirië kom om hom aan te val, het Hosea gesê hy sal die koning van Assirië dien, en Hosea het toe begin om elke jaar belasting te betaal vir die koning van Assirië.

4. Later het die koning van Assirië uitgevind dat Hosea planne maak teen hom en dat hy boodskappers gestuur het na koning So van Egipte om te vra dat koning So hom moet help. Hosea het ook opgehou om belasting te betaal vir die koning van Assirië. Toe het die koning van Assirië vir Hosea laat vang en hy het Hosea in ’n tronk laat toesluit.

5. Die koning van Assirië het begin om oorlog te maak teen die hele land Israel. Hy het by Samaria gekom en hy het die stad drie jaar lank van al die kante aangeval.

6. In die negende jaar nadat Hosea koning geword het, het die koning van Assirië die stad Samaria oorwin, en hy het die mense van Israel gevang en weggevat na Assirië. Daar het hy hulle laat woon in die stad Galag, by die Gabor-rivier in die land Gosan, en in die stede van Medië.

7. Dit het gebeur omdat die mense van Israel sonde gedoen het teen hulle God die Here, die God wat vir hulle uit Egipte laat kom het en wat hulle vrygemaak het van die farao, die koning van Egipte. Die Israeliete het ander gode gedien

8. en hulle het dieselfde dinge gedoen wat die ander volke gedoen het. Die Here het daardie volke weggejaag om plek te maak vir die mense van Israel. Die konings van Israel het gedoen soos die konings van ander volke,

9. en die mense van Israel het hulle God die Here gedien soos die ander volke hulle gode gedien het. Hulle het offer-plekke gebou by al hulle stede, klein en groot.

10. Hulle het klip-pale en gewyde pale ingeplant op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.

11. Hulle het wierook gebrand by al die offer-plekke, hulle het gedoen soos die ander volke. Die Here het daardie volke gevang en weggevat om plek te maak vir die mense van Israel. Maar die Israeliete het slegte dinge gedoen en hulle het die Here kwaad gemaak.

12. Die Here het gesê hulle mag nie die afgode dien nie, maar hulle het dit gedoen.

13. Die Here het al die profete en sieners gestuur om die mense van Israel en Juda te waarsku. Die Here het gesê: “Julle moet ophou om die slegte dinge te doen, julle moet gehoorsaam wees aan al my wette wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Ek het dit vir julle laat weet toe Ek my dienaars die profete na julle toe gestuur het.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17