Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:19-30 Bybel vir Almal (ABA)

19. maar jý sal nie die tempel bou nie, jou seun wat gebore sal word, hý sal vir My die tempel bou.’

20. En die Here het laat gebeur wat Hy belowe het. Ek het koning geword ná my pa Dawid, ek sit op die troon van Israel soos die Here belowe het, en ek het die tempel gebou om die Here, die God van Israel, te dien.

21. Ek het daar ’n plek gereedgemaak vir die kis van die Here waarin die verbond is wat die Here met ons voorvaders gemaak het toe Hy hulle uit Egipte gebring het.”

22. Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek

23. en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie ’n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê.

24. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het.

25. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’

26. En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid.

27. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek.

28. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid.

29. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat ’n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid.

30. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8