Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:20-35 Bybel vir Almal (ABA)

20. Sy sê toe: “Ek wil iets vir jou vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”Die koning het vir haar gesê: “Ma, jy mag vir my vra, ek sal nie vir jou nee sê nie.”

21. Sy sê toe: “Jy moet Abisag van Sunem vir jou broer Adonia gee sodat hy met haar kan trou.”

22. Koning Salomo het geantwoord en vir sy ma gesê: “Hoekom vra jy dat ek Abisag van Sunem vir Adonia moet gee? Wil jy ook vir my vra dat Adonia koning moet word in my plek? Hy is my broer wat ouer is as ek, en die priester Abjatar en Joab seun van Seruja wil ook hê dat Adonia koning moet word.”

23. Koning Salomo het gesê die Here moet die getuie wees en die Here moet hom straf as hy Adonia laat aanhou lewe nadat hy hierdie ding gevra het.

24. Die koning het gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat my koning laat word het, die Here wat my laat sit het op die troon van my pa Dawid en wat my familie die koningsfamilie gemaak het soos Hy belowe het, so seker sal Adonia vandag moet sterf.”

25. Koning Salomo het vir Benaja seun van Jojada gestuur, en hy het Adonia doodgemaak.

26. Die koning het vir die priester Abjatar gesê: “Jy moet in Anatot op jou grond gaan bly. Miskien moet ek jou laat doodmaak, maar ek sal dit nie vandag doen nie, want jy het die kis van die Here gedra voor my pa Dawid en jy het saam met hom swaargekry. Die Here is die Here.”

27. So het Salomo vir Abjatar laat ophou om priester te wees, en so het waar geword wat die Here gesê het van die familie van Eli in Silo.

28. Toe Joab hoor wat gebeur het, het hy na die tent van die Here gevlug en aan die horings van die altaar gaan vashou. Hy wou voorheen nie vir Absalom help om koning te word nie, maar nou wou hy vir Adonia help.

29. Toe koning Salomo hoor dat Joab na die tent van die Here gevlug het en dat hy daar langs die altaar staan, het hy vir Benaja seun van Jojada gestuur en gesê hy moet vir Joab gaan doodmaak.

30. Benaja het na die tent van die Here gegaan en vir Joab gesê: “Die koning sê jy moet uitkom.”Maar Joab het gesê: “Ek sal nie, ek wil hiér sterf.”Benaja het vir die koning gaan sê wat Joab gesê het,

31. en die koning het vir Benaja gesê: “Jy moet doen wat hy gesê het, gaan maak hom dood en begrawe hom. Dan sal die mense nie meer vir my en my familie beskuldig dat ons mense doodgemaak het nie, die mense vir wie Joab onskuldig doodgemaak het.

32. Die Here self sal vir Joab straf omdat hy die twee goeie manne doodgemaak het, manne wat beter was as hy. Joab het hulle met ’n swaard doodgesteek, maar my pa Dawid het niks daarvan geweet nie. Die twee manne was Abner seun van Ner, die hoof van die leër van Israel, en Amasa seun van Jeter, die hoof van die leër van Juda.

33. Joab en sy nageslag sal vir altyd skuldig wees omdat hulle daardie manne doodgemaak het, maar die Here sal dit goed laat gaan met Dawid en sy nageslag, met sy familie en met sy regering.”

34. Benaja seun van Jojada het gegaan en hy het vir Joab doodgemaak. Hulle het vir Joab begrawe by sy huis in die woestyn.

35. Die koning het vir Benaja seun van Jojada in Joab se plek gekies en aangestel om die hoof van die leër te wees, en hy het die priester Sadok gekies en aangestel in Abjatar se plek.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2