Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 2:2-20 Bybel vir Almal (ABA)

2. “Ek gaan nou sterf, soos al die mense. Jy moet sterk wees, jy moet ’n dapper man wees.

3. Jy moet doen wat jou God die Here gesê het. Jy moet lewe soos Hy wil hê, jy moet gehoorsaam wees en jy moet altyd doen wat die Here vir jou sê en leer, soos Moses in die wette geskryf het. Dan sal dit goed gaan met jou, dit sal goed gaan met alles wat jy doen en oral waar jy gaan.

4. Dan sal die Here doen wat Hy belowe het toe Hy gesê het: ‘As jou seuns aanhou om gehoorsaam te bly aan My en as hulle met hulle hele hart en lewe doen wat Ek wil hê, dan sal daar altyd iemand van jou nageslag op die troon van Israel sit.’

5. Jy weet ook wat Joab seun van Seruja aan my gedoen het en wat hy gedoen het met die twee hoofde van die leër van Israel. Hy het vir Abner seun van Ner, en vir Amasa seun van Jeter vermoor. Hy het hulle doodgemaak toe daar vrede was, nie in ’n oorlog nie. Hulle bloed het gevloei oor die belt om sy heupe en oor die sandale aan sy voete, soos in ’n oorlog.

6. Jy moet met hom doen wat jy dink is reg. Hy is ’n ou man, maar jy moenie hom in vrede laat sterf omdat hy oud is nie.

7. “Maar jy moet onthou die seuns van Barsillai van Gilead is jou vriende. Jy moet hulle by jou tafel laat eet, want hulle het dit ook vir my gedoen toe ek moes vlug vir jou broer Absalom.

8. “Simeï seun van Gera is ook hier by jou. Gera is ’n Benjamin-man van die stad Bagurim. Dit is hý wat my beledig het en wat my baie hartseer gemaak het daardie dag toe ek na die stad Maganajim gegaan het. Dit is ook hý wat my later kom ontmoet het by die Jordaan-rivier, en toe het ek vir hom voor die Here belowe dat ek hom nie sal doodmaak nie.

9. Maar nou moet jy hom nie vry laat wegkom nie. Jy is ’n wyse man en jy sal weet wat jy met hom moet doen. Hy is ’n ou man, maar sy bloed móét vloei, hy moet sterf.”

10. Dawid het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad.

11. Hy was 40 jaar lank koning, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem.

12. Salomo het op die troon van sy pa Dawid gaan sit. Almal het geweet dat hy nou die koning is.

13. Adonia seun van Gaggit het na Salomo se ma Batseba toe gekom. Batseba het vir hom gevra: “Kom jy soos ’n vriend?”Adonia het gesê: “Ja, ek kom soos ’n vriend.

14. Ek wil met jou praat oor iets.”Batseba sê toe: “Jy mag praat.”

15. Toe sê Adonia: “Jy weet dat ek koning sou geword het en dat al die Israeliete dit aanvaar het. Maar die Here het iets anders laat gebeur, my broer het koning geword.

16. En nou is daar een ding wat ek vir jou wil vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”Batseba het gesê: “Jy mag vra.”

17. Toe sê Adonia: “Jy moet asseblief met koning Salomo praat, want hy sal nie vir jou nee sê nie. Jy moet vra dat hy Abisag van Sunem vir my moet gee sodat ek met haar kan trou.”

18. Batseba het gesê: “Goed, ek sal met die koning gaan praat oor jou.”

19. Sy het na die koning toe gegaan om met hom te praat oor Adonia. Die koning het opgestaan en hy het haar kom ontmoet. Hy het voor haar gebuig en toe het hy op sy troon gaan sit. Hy het gesê hulle moet vir die ma van die koning ’n stoel bring, en sy het regs langs hom gaan sit.

20. Sy sê toe: “Ek wil iets vir jou vra, en jy moenie vir my nee sê nie.”Die koning het vir haar gesê: “Ma, jy mag vir my vra, ek sal nie vir jou nee sê nie.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 2