Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 16:6-19 Bybel vir Almal (ABA)

6. Baesa het gesterf en hulle het hom begrawe in die stad Tirsa. Sy seun Ela het koning geword ná hom.

7. Die Here het ook nog vir Jehu seun van Ganani gestuur om met Baesa en sy familie te praat oor al die dinge wat hy gedoen het. Die Here het nie gehou van die dinge wat hy gedoen het nie, dit het die Here kwaad gemaak. Hy was soos Jerobeam en hy het Jerobeam se hele nageslag vermoor.

8. Ela seun van Baesa het koning van Israel geword in die ses-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Ela was twee jaar lank koning in Tirsa.

9. Ela se offisier Simri was die hoof van die helfte van Ela se oorlogkarre, en Simri het saam met ander manne ’n plan gemaak teen Ela. Ela was besig om te drink en dronk te word in die huis van Arsa, die hoof van die paleis in die stad Tirsa.

10. Simri het daarnatoe gegaan en hy het vir Ela doodgemaak. Dit was in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Simri het koning geword ná Ela.

11. Nadat Simri koning geword het, het hy almal in die koningshuis van Baesa laat doodmaak. Hy het nie een man of seun of iemand in die familie of ’n vriend van Baesa laat lewe nie.

12. Dit het gebeur soos die Here voorheen vir die profeet Jehu gesê het om vir die mense te sê.

13. Dit was oor die sondes wat Baesa en sy seun Ela gedoen het en oor wat hulle die mense van Israel laat doen het. Hulle het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak, want hulle het afgode gedien.

14. Al die ander dinge wat Ela gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel.

15. Simri het koning van Israel geword in die sewe-en-twintigste jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Hy was sewe dae lank koning in Tirsa. Sy soldate was in die kamp by die stad Gibbeton in die land van die Filistyne.

16. Die soldate het gehoor dat Simri saam met ander mense planne gemaak het en dat hulle die koning vermoor het. Die soldate het toe daardie dag in die kamp vir Omri, die hoof van die leër, koning gemaak van Israel.

17. Omri en al die manne van Israel het van Gibbeton na Tirsa gegaan en hulle het die stad van al die kante aangeval.

18. Toe Simri sien dat hulle die stad oorwin, het hy gevlug tot agter die sterk mure van die paleis. Hy het die paleis bo-oor hom aan die brand gesteek en hy het gesterf.

19. Dit het gebeur omdat Simri sonde gedoen het en dinge gedoen het waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen soos Jerobeam, hy het dieselfde sonde gedoen wat Jerobeam gedoen het en wat Jerobeam die mense van Israel laat doen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 16