Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 12:21-33 Bybel vir Almal (ABA)

21. Rehabeam het na Jerusalem gekom en hy het al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam bymekaargeroep. Hulle was 180 000 soldate wat hy spesiaal gekies het. Rehabeam seun van Salomo wou oorlog maak teen die mense van Israel, hy wou probeer om die land terug te kry.

22. Maar God het vir Semaja, ’n man van God, gesê:

23. “Jy moet praat met Rehabeam seun van Salomo, koning van Juda, en met die hele Juda-stam en die Benjamin-stam en die ander mense. Jy moet vir hulle sê:

24. Die Here sê: Julle moenie gaan oorlog maak teen julle broers, die mense van Israel, nie. Julle moet teruggaan, elkeen na sy huis, want dit is Ek wat alles laat gebeur het.”Hulle het geluister na die boodskap van die Here en hulle het teruggegaan soos Hy gesê het.

25. Jerobeam het die stad Sigem in die Efraim-berge weer gebou en hy het daar gaan woon. Hy het later daar weggegaan en hy het die stad Pniël gaan bou.

26. Hy het gedink: Miskien sal die mense van my land teruggaan na die koningshuis van Dawid.

27. As hulle aanhou om offers te gaan bring in die tempel in Jerusalem, dan sal hulle weer aan hulle koning wil behoort, aan Rehabeam koning van Juda. Hulle sal my doodmaak en na Rehabeam toe teruggaan.

28. Koning Jerobeam het toe vir sy raadgewers gevra wat hy moet doen, en hy het twee goue kalfbeelde laat maak. Hy het vir sy mense gesê: “Mense van Israel, julle het lank na Jerusalem gegaan, maar hier is nou julle gode wat vir julle uit die land Egipte gebring het.”

29. Hy het die een kalfbeeld in die stad Bet-El gesit en die ander kalfbeeld in die stad Dan.

30. Hierdie ding het die volk sonde laat doen. Hulle het saam met die kalfbeeld gegaan tot by Dan.

31. Jerobeam het tempels by die offer-plekke laat bou en hy het priesters gekies en aangestel, die priesters was nie van die Levi-stam nie.

32. Hy het ’n fees op die 15de dag van die agste maand laat vier, soos die fees in Juda. Hy het na die altaar in Bet-El gegaan en hy het offers gebring vir die kalfbeelde wat hy laat maak het. Hy het priesters gekies en aangestel vir die offer-plekke wat hy laat bou het.

33. Op die 15de dag van die agste maand het Jerobeam ’n offer gebring op die altaar wat hy in Bet-El laat bou het. Hy het self besluit dat die mense van Israel daardie dag moet feesvier.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 12