Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:17-30 Bybel vir Almal (ABA)

17. “Moenie dink Ek het gekom om te sê die Wette van Moses en die boeke van die profete is nie meer belangrik nie. Ek het nie gekom om te sê dit is nie belangrik nie, Ek het gekom om te wys wat Moses en die profete bedoel het.

18. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die hemel en die aarde sal verdwyn, maar niks in die Wette van Moses sal verdwyn nie, nie die kleinste letter of letter-strepie nie. Alles wat daar geskryf is, moet eers gebeur.

19. Iemand dink miskien dit is nie nodig om gehoorsaam te wees aan een van die onbelangrikste van hierdie wette nie, en hy leer vir ander mense ook so. Dan sal hy niks beteken nie by God, die Koning wat in die hemel is. Maar iemand wat gehoorsaam is aan die wette van God en wat vir ander mense ook so leer, sal belangrik wees by God, die Koning wat in die hemel is.

20. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle moet gehoorsaam wees en doen wat God wil hê, meer gehoorsaam as die skrifgeleerdes en die Fariseërs. As julle dit nie doen nie, dan sal julle nie by God kan kom nie, by God, die Koning wat in die hemel is.”

21. “Julle weet die wette sê: ‘Jy mag nie iemand vermoor nie. As jy iemand vermoor, dan sal die hof jou straf.’

22. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad word, moet dit weet: Die hof sal hom straf. En elkeen wat vir sy broer sê: Jy is ’n domkop, die Joodse Raad sal hom straf. En elkeen wat vir iemand sê: Jy is ’n dwaas, hy sal brand in die vuur van die hel.

23. Wanneer jy jou offer na die altaar bring, en jy onthou daar dat jou broer kwaad is vir jou,

24. moenie dan offer nie. Los jou offer daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer. Kom dan terug en bring jou offer vir God.

25. Wanneer iemand jou hof toe wil vat, dan moet jy met hom vrede maak voordat julle by die hof kom. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou na die hof bring, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit.

26. Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”

27. “Julle weet die wette sê: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’

28. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n ander vrou kyk en lus kry om by haar te slaap, het klaar in sy hart sonde gedoen en egbreuk gepleeg.

29. As jou regter-oog jou laat sonde doen, ruk dit uit en gooi dit weg, want dan verloor jy net ’n oog en jou hele liggaam gaan nie hel toe nie.

30. As jou regter-hand jou laat sonde doen, kap dit af en gooi dit weg, want dan verloor jy net ’n hand en dan sal jou hele liggaam nie hel toe gaan nie.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 5