Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:22-35 Bybel vir Almal (ABA)

22. In daardie tyd sal die mense swaarkry, maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak. As Hy dit nie besluit het nie, dan sal niemand in daardie tyd aanhou lewe nie. Maar die Here het besluit om daardie tyd korter te maak om die mense te help wat Hy gekies het.

23. Wanneer iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of ‘Daar is Hy!’ dan moet julle hom nie glo nie,

24. want daar sal mense kom wat vals is en wat sê hulle is die Christus. Daar sal ook vals profete kom en hulle sal groot tekens wys en wonderwerke doen. God het mense gekies, en die vals profete sal probeer om ook daardie mense verkeerd te laat doen. Maar die vals profete sal dit nie regkry nie.

25. Julle moet luister, Ek het dit alles vir julle gesê voordat dit gebeur.

26. En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ dan moet julle nie daarnatoe gaan nie. En as hulle vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in ’n kamer!’ dan moet julle dit nie glo nie.

27. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos wanneer die weerlig van die ooste tot in die weste skyn.

28. Al die mense sal weet dat Ek kom, soos mense weet dat daar ’n dooie liggaam is wanneer hulle sien die aasvoëls kom bymekaar.”

29. Jesus het gesê: “En nadat mense die gelowiges verdruk het, sal dit nie lank wees nie,“dan sal die son donker worden die maan sal nie skyn nie.Die sterre sal uit die lug valen alles in die lug sal skud.

30. “Dan sal mense ’n teken in die lug sien wat sal wys dat Ek, die Seun van die mens, kom. En die volke van die aarde sal huil en treur. Almal sal My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees.

31. Wanneer iemand die groot trompet blaas, dan sal Ek my engele stuur en Ek sal al die mense bymekaarmaak wat Ek gekies het. Ek sal hulle bymekaarmaak van die ooste, die weste, die noorde en die suide, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.”

32. Jesus het ook gesê: “Julle moet hierdie les leer van die vyeboom: Wanneer ’n vyeboom se takke sag word en die blare begin groei, dan weet julle die somer is naby.

33. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die Here is naby, Hy sal gou kom.

34. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur.

35. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 24