Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1:12-21 Bybel vir Almal (ABA)

12. Dadelik daarna het die Heilige Gees vir Jesus weggestuur in die woestyn in.

13. Jesus het 40 dae lank in die woestyn gebly, en die Satan het probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het vir Hom gesorg.

14. Koning Herodes het vir Johannes laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Daarna het Jesus na Galilea gekom en Hy het vir die mense God se goeie boodskap gebring.

15. Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.”

16. Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy het gesien Simon en sy broer Andreas gooi hulle visnette in die see, want hulle was vissermanne.

17. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.”

18. Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan.

19. Toe Jesus ’n bietjie verder geloop het, sien Hy vir Jakobus en sy broer Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in hulle boot besig om die visnette reg te maak.

20. Jesus het hulle ook dadelik geroep om saam te kom. Hulle het hulle pa, Sebedeus, en die vissermanne wat vir hom gewerk het, in die boot gelos, en hulle het saam met Jesus gegaan.

21. Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer.

Lees volledige hoofstuk Markus 1