hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 2 Bybel vir Almal (ABA)

God red ons, want Hy is goed vir ons

1. Voorheen, voordat julle in Christus geglo het, was julle geestelik dood, want julle het baie verkeerde dinge, baie sondes, gedoen.

2. Julle het gelewe soos die mense van die wêreld lewe. Julle het gedoen wat die Satan wil hê julle moet doen. Die Satan is die hoof van die bose geeste wat oor die wêreld wil regeer en dit is hy wat nou werk in die harte van die mense wat ongehoorsaam is aan God.

3. Ons almal het ook soos daardie mense gelewe wat graag slegte dinge doen. Ons het slegte dinge gedoen en slegte planne gemaak. Ons was sleg vandat ons gebore is, so sleg soos al die ander slegte mense, en God sal slegte mense straf.

4. Maar God is baie jammer vir ons. Hy is baie lief vir ons en Hy het dit vir ons gewys.

5. Ons was geestelik dood, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar God het vir Christus weer laat lewe, en so het Hy ons laat lewe. Julle moet onthou God het julle gered omdat Hy goed is vir julle.

6. Ons behoort aan Christus Jesus. God het vir Christus weer laat lewe en Hy het ons ook weer laat lewe. God het vir Christus ’n plek in die hemel gegee en Hy het vir ons ook ’n plek in die hemel gegee.

7. God het dit alles gedoen omdat Hy altyd wil wys dat Hy baie goed en lief is vir ons. Dit is hoekom Hy vir Christus Jesus gestuur het.

8. Ja, God het julle gered omdat Hy baie goed is vir julle, julle wat in Christus glo. Julle het julle nie self gered nie. Nee, Gód het julle gered, Hý was so goed vir julle.

9. God het julle gered, maar Hy het dit nie gedoen omdat julle goeie dinge gedoen het nie. Daarom mag niemand spog nie,

10. want dit is God wat ons gemaak het wat ons is. Hy het vir Christus Jesus gestuur sodat ons soos nuwe mense kan lewe en goeie dinge kan doen. God het hierdie goeie dinge wat ons moet doen, lank gelede gereedgemaak.

Christus het vrede gemaak tussen die Jode en die ander mense

11. Julle moet onthou julle was heidene. Die Jode het gesê julle is nie besny nie. Dit is waar dat die Jode besny is, maar dit is net hulle liggame wat verander het.

12. Julle moet onthou julle het voorheen nie aan Christus behoort nie. Israel was die volk van God, nie julle nie. God het verbonde gemaak met Israel, nie met julle nie. God het dinge belowe vir Israel, nie vir julle nie. Julle was mense wat nie seker was dat daar eendag goeie dinge met julle sal gebeur nie. Julle het nie aan God behoort nie.

13. Maar nou het julle naby God gekom, julle wat voorheen ver van Hom was. Christus Jesus het vir julle gesterf en Hy het julle naby God gebring.

14. Dit is Christus wat vrede gebring het tussen ons. Die Jode en die heidene was altyd apart en hulle was mekaar se vyande. Dit was soos ’n muur tussen die Jode en die heidene. Maar Christus het die muur afgebreek en Hy het die Jode en die heidene bymekaargebring. Hulle is nou nie meer vyande nie.

15. Christus het gesê die Jode se wette en reëls beteken nou niks, dit is nie meer belangrik nie. Hy het die Jode en die heidene saam soos een nuwe mens gemaak. So het Hy vrede gemaak tussen hulle.

16. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het Hy die sonde van die Jode en die heidene weggeneem, sodat alles nou reg is tussen God en hulle. Die Jode en die heidene is nou soos een liggaam, hulle is nie meer vyande van mekaar nie.

17. Christus het kom sê daar is nou vrede vir julle wat ver van God was en daar is vrede vir die Jode wat naby God was.

18. Ja, Christus het gesterf, en nou kan ons almal, Jode en heidene, kom by God die Vader, want ons almal het die Heilige Gees gekry, en daar is net een Heilige Gees.

19. Daarom is julle nie meer soos vreemdelinge nie, soos mense wat nie ’n eie plek het nie. Julle is nou ook mense wat aan God behoort, julle is soos sy eie huisgesin.

20. Julle is die kerk, julle is soos ’n gebou. Die fondament van die gebou is die apostels en die profete, en Christus Jesus is self die belangrikste klip in die gebou.

21. Hy, Christus, hou die hele gebou regop en Hy maak dit sterk. Hy, die Here, laat die kerk groei en Hy maak dit ’n tempel wat aan die Here behoort.

22. Christus het die Heilige Gees gestuur, en die Heilige Gees maak julle ’n deel van hierdie gebou, die gebou wat die woonplek van God is.