hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 1 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek, Paulus, is ’n apostel van Christus Jesus omdat God dit wil hê. Ek skryf hierdie brief vir julle wat in die stad Efese woon, julle wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.

2. Ek bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.

God het baie goeie dinge vir die gelowiges gedoen

3. Ons prys die God en Vader van ons Here Jesus Christus, want God was baie goed vir ons. Ons behoort aan Christus, en die Heilige Gees het vir ons al die goeie dinge gegee wat in die hemel is.

4. God het ons gekies sodat ons aan Christus kan behoort. Ja, God het ons gekies voordat Hy die wêreld gemaak het. Hy het dit gedoen sodat ons aan Hom sal behoort en reg sal lewe en vol liefde sal wees.

5. Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy besluit dat ons sy kinders moet wees. Hy het vir Jesus Christus gestuur sodat ons God se kinders kon word. God wou graag hê ons moet sy kinders wees.

6. God was baie goed vir ons, Hy het sy Seun gestuur, Hy is lief vir sy Seun. Daarom prys ons Hom, die Koning wat goed is vir ons.

7-8. Die bloed van Christus het gevloei, en Hy het gesterf. So het God ons vrygemaak en ons sondes vergewe. God was baie goed vir ons. Ja, Hy was baie baie goed vir ons. Hy het vir ons al die wysheid en die kennis gegee.

9. Niemand het voorheen geweet wat God oor Christus besluit het nie, maar nou het God dit vir ons gesê. God het besluit om dit so te doen, Hy wou dit graag doen.

10. Hy het besluit wanneer dit die regte tyd sal wees, wanneer Christus moet kom sodat alles in die hemel en op die aarde saam aan Christus sal behoort en een sal wees.

11. God het lank gelede besluit dat ons aan Hom moet behoort, daarom het Hy vir Christus gestuur. En wanneer God besluit dat iets moet gebeur, dan gebeur dit.

12. God het dit gedoen, want Hy wou hê dat ons Hom, die Koning, moet prys, ons wat eerste begin glo het en seker is dat Christus ons sal red.

13. Julle in Efese behoort ook aan Christus, julle het die regte boodskap gehoor, die goeie boodskap dat God julle wil red. Julle behoort aan Christus, julle glo in Hom, en daarom het God vir julle die Heilige Gees gegee wat Hy belowe het. Die Heilige Gees wys dat julle aan God behoort.

14. Ja, ons het die Heilige Gees, en daarom weet ons God sal vir ons alles gee wat Hy vir ons belowe het. Hy sal ons heeltemal vrymaak, ons wat aan Hom behoort. Daarom moet ons vir God, ons Koning, prys!

Paulus bid vir almal wat in Christus glo

15. Ek het gehoor dat julle in die Here Jesus glo en dat julle lief is vir almal wat aan God behoort.

16. Daarom, wanneer ek bid, sê ek altyd vir God dankie vir julle, en dink ek aan julle.

17. Dan vra ek vir die God van ons Here Jesus Christus, vir die Vader wat Koning is, Hy moet vir julle wysheid gee en Hy moet vir julle wys hoe julle Hom kan ken.

18. Ek bid dat God julle sal help om regtig te weet wat julle sal kry omdat Hy julle gekies het om aan Hom te behoort. Julle sal al die dinge kry wat Hy, die Koning, sal gee vir die mense wat aan Hom behoort.

19. Ek bid ook dat julle sal weet dat God se krag baie sterk is, en dat Hy sy krag in ons lewens gebruik, in ons wat glo.

20. Dit is dieselfde sterk krag wat God gebruik het toe Hy vir Christus weer laat lewe het en Hom laat sit het op die belangrikste plek by Hom in die hemel.

21. Christus is belangriker as almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, belangriker as enige iets waaraan ’n mens kan dink, nou of in die tyd wat kom.

22-23. God het Christus laat wen teen al sy vyande. Hy het vir Christus die Hoof gemaak van alles. God het dit gedoen sodat dit goed sal gaan met die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus. Hý alleen laat die kerk waarlik lewe, Hy laat alles lewe.