Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 2:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Vriende, julle weet baie goed dat ons werk by julle nie misluk het nie.

2. Julle weet ook dat ons eers in die stad Filippi baie swaar gekry het voordat ons na julle toe gekom het. Die mense daar het slegte dinge gedoen aan ons. Ook in die stad Tessalonika was daar mense wat ons probeer keer het, maar God het ons gehelp om aan te hou om die goeie boodskap van God vir julle te bring.

3. Ons het vir julle geleer wat julle moet doen en ons het dit gedoen soos mense wat weet wat die waarheid is. Ons wou ook nie vir onsself iets kry of vir julle bedrieg nie.

4. Nee, God het ons eers baie goed getoets voordat Hy die goeie boodskap vir ons gegee het om dit vir julle te bring. Daarom, wanneer ons met julle praat, dan probeer ons nie om dinge te sê wat mense wil hê nie. Nee, ons probeer net sê wat God wil hê, want dit is God wat ons harte toets.

5. Julle weet baie goed: Ons het nooit probeer om vir julle mooi dinge te sê net sodat julle gelukkig moet voel nie. Ons het ook nie gemaak of ons baie goed is sodat julle vir ons geld moet gee nie. God weet ek praat die waarheid.

6. Ons wou ook nie hê mense moet ons prys nie. Julle moet ons nie prys nie, en ander mense moet ons ook nie prys nie.

7. Ons is apostels van Christus en daarom mag ons gesê het dat julle vir ons moet sorg. Maar ons het dit nie gesê nie. Ons was soos kindertjies toe ons by julle was, ons het niks gevra nie. Nee, dit was óns wat vir júlle gesorg het, soos ’n vrou vir haar baba sorg.

8. Ons het baie verlang om by julle te wees, daarom het ons besluit om God se goeie boodskap vir julle te bring. En nie net dit nie, ons wou ook onsself vir julle gee, want ons het baie lief geword vir julle.

9. Vriende, onthou julle hoe hard ons gewerk en gesweet het toe ons by julle was? Ons het elke dag en nag gewerk om self te betaal vir ons kos en slaapplek, ons wou vir niemand van julle vra om vir ons te sorg nie. So het ons God se goeie boodskap vir julle gebring.

10. Julle weet en God weet ook dat ons baie hard gewerk het vir julle wat glo. Ons het net aan julle gedink. Niemand kan ons beskuldig nie.

11. Julle weet goed dat ons vir elkeen van julle lief was soos ’n pa lief is vir sy kinders.

12. Ons het met julle gepraat soos ’n pa met sy kinders praat. Ons het gesê julle moenie moedeloos word nie, julle moet aanhou probeer. Ons het gesoebat dat julle so moet lewe dat God tevrede sal wees met julle. Want dit is Hý wat vir julle gekies het, Hy wil julle Koning wees en oor julle regeer.

13. Daarom sê ons ook vir God altyd dankie dat julle geglo het wat ons vir julle gesê het. Julle het geglo dat God dit gesê het, nie mense nie. En die dinge wat God gesê het, werk nou ook in julle wat glo.

Lees volledige hoofstuk 1 Tessalonisense 2