hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Tessalonisense 2 Bybel vir Almal (ABA)

Paulus se harde werk in Tessalonika

1. Vriende, julle weet baie goed dat ons werk by julle nie misluk het nie.

2. Julle weet ook dat ons eers in die stad Filippi baie swaar gekry het voordat ons na julle toe gekom het. Die mense daar het slegte dinge gedoen aan ons. Ook in die stad Tessalonika was daar mense wat ons probeer keer het, maar God het ons gehelp om aan te hou om die goeie boodskap van God vir julle te bring.

3. Ons het vir julle geleer wat julle moet doen en ons het dit gedoen soos mense wat weet wat die waarheid is. Ons wou ook nie vir onsself iets kry of vir julle bedrieg nie.

4. Nee, God het ons eers baie goed getoets voordat Hy die goeie boodskap vir ons gegee het om dit vir julle te bring. Daarom, wanneer ons met julle praat, dan probeer ons nie om dinge te sê wat mense wil hê nie. Nee, ons probeer net sê wat God wil hê, want dit is God wat ons harte toets.

5. Julle weet baie goed: Ons het nooit probeer om vir julle mooi dinge te sê net sodat julle gelukkig moet voel nie. Ons het ook nie gemaak of ons baie goed is sodat julle vir ons geld moet gee nie. God weet ek praat die waarheid.

6. Ons wou ook nie hê mense moet ons prys nie. Julle moet ons nie prys nie, en ander mense moet ons ook nie prys nie.

7. Ons is apostels van Christus en daarom mag ons gesê het dat julle vir ons moet sorg. Maar ons het dit nie gesê nie. Ons was soos kindertjies toe ons by julle was, ons het niks gevra nie. Nee, dit was óns wat vir júlle gesorg het, soos ’n vrou vir haar baba sorg.

8. Ons het baie verlang om by julle te wees, daarom het ons besluit om God se goeie boodskap vir julle te bring. En nie net dit nie, ons wou ook onsself vir julle gee, want ons het baie lief geword vir julle.

9. Vriende, onthou julle hoe hard ons gewerk en gesweet het toe ons by julle was? Ons het elke dag en nag gewerk om self te betaal vir ons kos en slaapplek, ons wou vir niemand van julle vra om vir ons te sorg nie. So het ons God se goeie boodskap vir julle gebring.

10. Julle weet en God weet ook dat ons baie hard gewerk het vir julle wat glo. Ons het net aan julle gedink. Niemand kan ons beskuldig nie.

11. Julle weet goed dat ons vir elkeen van julle lief was soos ’n pa lief is vir sy kinders.

12. Ons het met julle gepraat soos ’n pa met sy kinders praat. Ons het gesê julle moenie moedeloos word nie, julle moet aanhou probeer. Ons het gesoebat dat julle so moet lewe dat God tevrede sal wees met julle. Want dit is Hý wat vir julle gekies het, Hy wil julle Koning wees en oor julle regeer.

13. Daarom sê ons ook vir God altyd dankie dat julle geglo het wat ons vir julle gesê het. Julle het geglo dat God dit gesê het, nie mense nie. En die dinge wat God gesê het, werk nou ook in julle wat glo.

14. Vriende, dieselfde dinge gebeur met julle soos wat gebeur het met die gemeentes van God in die provinsie Judea, hulle is mense wat ook in Christus Jesus glo. Julle het ook swaargekry soos hulle. Julle eie mense het julle laat swaarkry, soos die Jode die gemeentes in Judea laat swaarkry het.

15. Dit is die Jóde wat die Here Jesus doodgemaak het. Hulle het die profete laat swaarkry en ook vir ons. Die Jode doen nie wat God wil hê nie, en hulle is téén al die mense.

16. Hulle keer ons wanneer ons vir die heidene die boodskap wil bring sodat God die heidene kan red. So het die Jode se sondes meer en meer geword, hulle het baie baie skuldig geword. En nou het God hulle begin straf.

Paulus wil graag weer na die gemeente gaan

17. Vriende, ons is nou ’n kort tydjie nie by julle nie. Ons voel soos kinders wat nie ouers het nie. Julle kan ons nie sien nie, maar in ons harte dink ons aan julle. Ons het regtig baie hard probeer om by julle te kom, ons het baie verlang om julle weer te sien.

18. Ja, ons wou regtig na julle toe kom. Ek, Paulus, het self meer as een maal probeer om te kom, maar die Satan het ons gekeer.

19. Julle moenie luister na wat ander mense sê nie. Dit is net julle en die ander gelowiges wat ons laat hoop, ons kan bly wees oor julle. Wat sal ons kry vir die werk wat ons gedoen het? Wat sal ons vir die Here Jesus kan wys wanneer Hy weer kom? Ons sal net julle en die ander gelowiges vir Hom kan wys.

20. Júlle is die mense op wie ons trots sal wees, ons sal bly wees oor julle.