Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:16-29 Bybel vir Almal (ABA)

16. Die gelowige vrou kan nie seker weet dat sy haar ongelowige man vir God sal kan red nie. En die gelowige man kan nie seker weet dat hy sy ongelowige vrou vir God sal kan red nie.

17. Daar sal party mense wees wat skei, maar ek wil vir julle sê wat julle moet doen: Elkeen moet aanhou lewe soos hy of sy is: As hy getroud is, dan moet hy getroud bly, of as hy ongetroud is, dan moet hy ongetroud bly. Jy moet aanvaar wat die Here vir jou in die lewe gegee het. Jy moet bly soos jy was toe God jou gekies het om aan Hom te behoort. So moet elkeen sy of haar werk doen. Dit is wat ek vir al die gemeentes sê.

18. As jy besny was toe God jou gekies het, moenie dan probeer om weg te steek dat jy besny is nie. En as jy nie besny was toe God jou gekies het nie, moenie dan vra dat iemand jou moet besny nie.

19. Dit is nie belangrik om besny te wees of nie besny te wees nie. Maar wat belangrik is, is dat jy gehoorsaam moet wees aan die wette van God.

20. Daarom moet elkeen bly soos hy was toe God hom gekies het.

21. As jy ’n slaaf was toe God jou gekies het, dan moet jy nie daaroor bekommerd wees dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jou eienaar jou wil laat gaan om vry te wees, dan kan jy dit aanvaar en jy kan ’n vry man of vrou word.

22. Dit maak nie saak of jy ’n slaaf is en of jy vry is nie, want as jy ’n slaaf is en die Here het jou gekies, dan is jy vry omdat jy aan die Here behoort. En as jy vry is en die Here het jou gekies, dan is jy ’n slaaf van Christus.

23. Christus het baie duur betaal om julle te koop. Daarom moet julle nie slawe van mense wees nie.

24. My vriende, julle moet vir God dien en aanhou lewe soos julle gedoen het toe Hy julle gekies het. Julle moenie iets anders probeer wees nie.

25. Die Here het nie spesiaal iets gesê vir die jongmense wat nog nie getroud is nie. Maar ek wil vir julle sê wat ek dink julle moet doen. Die Here was goed vir my, julle kan nou vir my glo.

26. Die mense sal baie swaar kry in die tyd wat kom. Daarom dink ek dit is goed as iemand bly soos hy is, getroud of nie getroud nie.

27. As hy getroud is, dan moet hy nie skei nie. As hy nie getroud is nie, dan moet hy nie trou nie.

28. Maar as ’n jongman trou, dan doen hy nie sonde nie. En as ’n jongmeisie trou, dan doen sy nie sonde nie. Maar getroude mense sal swaarkry omdat daar so baie dinge is wat mense moet doen wanneer hulle getroud is, en ek wil nie hê julle moet swaarkry nie.

29. My vriende, ek waarsku julle dat die tyd kort is voordat Christus weer kom. Daarom moet die mense wat getroud is, wees soos mense wat nie getroud is nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7