Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 7:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Daar is ook die probleem van iemand wat getroud is met ’n man of vrou wat nie ’n gelowige is nie. Die Here Jesus het nie iets spesiaal daaroor gesê nie, maar ék wil iets daaroor sê: As ’n gelowige man met ’n ongelowige vrou getroud is, en die ongelowige vrou is tevrede om saam met haar man te lewe, dan moet die gelowige man nie van sy vrou skei nie.

13. Dit is dieselfde met ’n gelowige vrou: As sy met ’n ongelowige man getroud is, en die ongelowige man is tevrede om saam met sy vrou te lewe, dan moet die gelowige vrou nie van haar man skei nie.

14. Want omdat die ongelowige man getroud is met die gelowige vrou, sal hy miskien ook later aan God behoort. En omdat die ongelowige vrou getroud is met die gelowige man, sal sy miskien ook later aan God behoort. As dit nie so was nie, dan sou hulle kinders nie aan God behoort het nie, maar nou behoort hulle kinders aan God.

15. Maar as die óngelowige man of vrou wil skei, dan moet julle nie vir hulle keer nie, want God wil hê daar moet vrede wees tussen ’n man en sy vrou. Niemand kan sê die gelowige man of vrou móét getroud bly nie.

16. Die gelowige vrou kan nie seker weet dat sy haar ongelowige man vir God sal kan red nie. En die gelowige man kan nie seker weet dat hy sy ongelowige vrou vir God sal kan red nie.

17. Daar sal party mense wees wat skei, maar ek wil vir julle sê wat julle moet doen: Elkeen moet aanhou lewe soos hy of sy is: As hy getroud is, dan moet hy getroud bly, of as hy ongetroud is, dan moet hy ongetroud bly. Jy moet aanvaar wat die Here vir jou in die lewe gegee het. Jy moet bly soos jy was toe God jou gekies het om aan Hom te behoort. So moet elkeen sy of haar werk doen. Dit is wat ek vir al die gemeentes sê.

18. As jy besny was toe God jou gekies het, moenie dan probeer om weg te steek dat jy besny is nie. En as jy nie besny was toe God jou gekies het nie, moenie dan vra dat iemand jou moet besny nie.

19. Dit is nie belangrik om besny te wees of nie besny te wees nie. Maar wat belangrik is, is dat jy gehoorsaam moet wees aan die wette van God.

20. Daarom moet elkeen bly soos hy was toe God hom gekies het.

21. As jy ’n slaaf was toe God jou gekies het, dan moet jy nie daaroor bekommerd wees dat jy ’n slaaf is nie. Maar as jou eienaar jou wil laat gaan om vry te wees, dan kan jy dit aanvaar en jy kan ’n vry man of vrou word.

22. Dit maak nie saak of jy ’n slaaf is en of jy vry is nie, want as jy ’n slaaf is en die Here het jou gekies, dan is jy vry omdat jy aan die Here behoort. En as jy vry is en die Here het jou gekies, dan is jy ’n slaaf van Christus.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 7