Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 7:11-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die wagte het die nuus verder oorgedra totdat dit binne in die paleis bekend geword het.

12. Die koning het die nag opgestaan en vir sy amptenare gesê: “Ek sal julle vertel wat die Arameërs met ons wil doen! Hulle weet ons is uitgehonger. Hulle het uit die kamp uit gegaan en in die veld gaan wegkruip met die gedagte: as die Israeliete uit die stad uitgaan, vang ons hulle lewendig en kom so self in die stad.”

13. Een van sy amptenare het hierop geantwoord: “Laat van ons mense vyf van die perde vat wat nog oor is, dan stuur ons hulle met die perde en kyk wat gebeur. Hulle sal dit óf oorleef soos die menigte Israeliete wat nog in die stad oor is, óf hulle sal omkom soos die menigte Israeliete wat hier al aan hulle einde gekom het.”

14. Hulle het twee strydwaens met perde gevat. Die koning het hulle agter die leër van die Arameërs aan gestuur met die opdrag: “Gaan kyk.”

15. Hulle is agter hulle aan tot by die Jordaan. Die hele pad het vol klere en goed gelê wat die Arameërs in hulle haas om weg te kom, weggegooi het. Die boodskappers het teruggekom en dit aan die koning meegedeel.

16. Toe het die volk uit die stad uit gegaan en die kamp van die Arameërs geplunder. Vyf kilogram meel of nege kilogram gars het net elf gram silwer gekos, soos die Here gesê het.

17. Die koning het die adjudant, wat sy vertroueling was, in bevel van die poort geplaas, maar hy is deur die volk in die poort doodgetrap, net soos die man van God dit vir die koning gesê het toe dié na hom toe gekom het.

18. Dit het gebeur net soos die man van God vir die koning gesê het: “Nege kilogram gars of vyf kilogram meel sal môre hierdie tyd net elf gram silwer kos in die poort van Samaria.”

19. Toe het die adjudant mos die man van God geantwoord: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel dat dit nou reën,” en Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal net nie daarvan eet nie.”

20. Dit is presies wat met die adjudant gebeur het: die volk het hom in die poort doodgetrap.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 7