Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 17:12-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

12. Hulle het die stinkende afgode gedien wat die Here hulle uitdruklik verbied het.

13. Die Here het Israel en Juda deur elke profeet en siener gewaarsku: “Bekeer julle van julle verkeerde paaie. Kom my gebooie en voorskrifte na volgens die hele wet wat Ek julle voorvaders beveel het, wat Ek deur my dienaars die profete aan julle gegee het.”

14. Maar hulle wou nie luister nie; hulle was net so hardkoppig soos hulle voorvaders wat ook nie op die Here hulle God vertrou het nie.

15. Hulle het sy voorskrifte en sy verbond verwerp wat Hy met hulle voorvaders gemaak het. Sy waarskuwings het hulle in die wind geslaan, hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Hulle het geleef net soos die heidennasies om hulle, iets wat die Here hulle beveel het om nie te doen nie.

16. Al die gebooie van die Here hulle God het hulle links laat lê: hulle het twee kalwerbeelde laat giet, 'n Asjerabeeld gemaak, voor elke hemelliggaam gebuig en vir Baäl gedien.

17. Die volk het hulle seuns en dogters as offers laat verbrand en hulleself besig gehou met waarsêery en toekomsvoorspelling. Met volkome oorgawe het hulle gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uitgetart.

18. Die Here het so toornig op Israel geword dat Hy hulle verwerp het. Net die stam Juda het oorgebly.

19. Maar ook Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie: hulle het die praktyke van Israel nagevolg.

20. Daarom het die Here die hele nageslag van die aartsvader Israel verwerp. Die Here het hulle verdruk deur hulle oor te gee in die mag van plunderaars totdat Hy hulle finaal verwerp het.

21. Hy het Israel afgeskeur van die koningshuis van Dawid, sodat hulle Jerobeam seun van Nebat koning gemaak het. Jerobeam het Israel van die Here losgemaak en hulle tot vreeslike sondes verlei.

22. Die Israeliete het volhard in al die sondes wat Jerobeam gedoen het; hulle het dit nie laat vaar nie.

23. Uiteindelik het die Here hulle laat vaar soos Hy hulle deur al sy dienaars, die profete, gewaarsku het. Hy het Israel uit sy land na Assirië toe laat wegvoer, waar hulle vandag nog is.

24. Die koning van Assirië het inwoners van Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim af gebring, en hulle in die stede van Samaria gevestig in die plek van die Israeliete. Hierdie mense het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon.

25. Aan die begin van hulle verblyf het hulle die Here nie vereer nie, daarom het die Here leeus op hulle losgelaat wat onder hulle gemaai het.

26. Toe is die koning van Assirië meegedeel: “Die nasies wat deur u weggevoer en in die stede van Samaria gevestig is, weet nie hoe hulle die God van die land moet vereer nie. Nou het Hy leeus op hulle losgelaat wat hulle doodgemaak het. Dit het gebeur net omdat hulle nie presies weet watter verering hulle aan die God van die land verskuldig is nie.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 17