hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dawid se eerste poging om die ark na Jerusalem toe te bring

1. Daarna het Dawid met die aanvoerders van duisend en dié van honderd beraadslaag, met elke leier.

2. Hy het vir die volle volksvergadering van Israel gesê: “As julle dink dit is goed, en as die Here ons God sy goedkeuring gee, laat ons die saak nou aanpak en boodskappers stuur na ons ander volksgenote toe in al die gebiede van Israel, dat hulle, en saam met hulle die priesters en die Leviete wat in hulle dorpe met weivelde woon, hier by ons moet bymekaarkom.

3. Dan bring ons die ark van ons God na ons toe terug; in Saul se tyd het ons ons nie daaroor bekommer nie.”

4. Die volle vergadering het hom bereid verklaar om dit te doen, want die hele volk het gedink dis reg.

5. So het Dawid dan die hele Israel, van Sigorspruit aan die Egiptiese grens af tot by Lebo-Hamat, bymekaargebring om die ark van God in Kirjat-Jearim te gaan haal.

6. Dawid en die hele Israel het opgetrek na Baäla toe, na Kirjat-Jearim toe wat in Juda lê, om die ark te gaan haal. Dit is die ark van die Here God wat oor die gerubs troon; sy Naam is oor die ark uitgeroep.

7. Hulle het die ark van God op 'n nuwe wa vervoer van die huis van Abinadab af. Ussa en Agjo het die wa gedrywe.

8. Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van God uit gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, simbale en trompette.

9. Toe hulle by Nakon se dorsvloer kom, het Ussa die ark met sy hand teëgehou, want die osse het gestruikel.

10. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam; die Here het hom getref omdat hy met sy hand aan die ark geraak het, en hy het daar langs die ark gesterf.

11. Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.

12. Dawid het daardie dag bang geword vir God en gesê: “Hoe kan ek die ark van God nou na my toe bring?”

13. Hy het toe nie die ark na hom toe in die Dawidstad laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was.

14. Die ark van God het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en God het hom en alles wat hy gehad het, voorspoedig gemaak.